On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

‘Aliwal-huurmoordkomplot’ dalk ’n lokval, hoor hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Tue, 22 Sep 2026

‘Aliwal-huurmoordkomplot’ dalk ’n lokval, hoor hof | News Article
Adv. Allen Simpson en Anelle de Bruin voor die hof in Aliwal-Noord. Foto: Charne van der Merwe

Minstens 43 boodskappe waarin die staat se sleutelgetuie glo geld gevra het in die twee maande voordat ’n beweerde huurmoordaanslag uitgevoer sou word, is in die streekhof op Aliwal-Noord onthul.

Anelle de Bruin (48) sal Dinsdag (22/9) weer voorkom. Sy word daarvan beskuldig dat sy saamgesweer het om haar voormalige man, Johan, te laat vermoor en die moord soos ’n plaasaanval te laat lyk.

Die tientalle boodskappe het Maandag (21/9) tydens adv. Allen Simpson se kruisondervraging van die staat se hoofgetuie ter sprake gekom.

Die getuie se naam mag ingevolge ’n nuwe hofbevel nie in die media gepubliseer word nie, nadat hy aangevoer het vorige berigte waarin sy naam verskyn het, het sy lewe “erg benadeel”.

Simpson voer aan die getuie het De Bruin oor ’n tydperk telkens geld gevra en verskeie redes daarvoor aangevoer. Hy het onder meer geld gevra vir doktersafsprake, reise en sy onderneming in natuurlike medisyne.

Anelle de Bruin tydens ’n vorige verskyning. Foto: Charne van der Merwe

Die verdediging se weergawe is hy het De Bruin op dié manier aan ’n lyntjie gehou en haar oor ’n lang tyd finansieel gemanipuleer. Die getuie ontken hy het haar probeer bedrieg. Sy vorige versoeke was glo vir geld wat met sy onderneming en ander uitgawes verband gehou het.

Die R4 400 wat op 9 Januarie 2025 in die getuie se TymeBank-rekening betaal is, het ook onder die loep gekom. Dié geld was glo ’n voorskot vir die vermeende huurmoordenaar.

Volgens betalings wat aan die hof voorgehou is, was daar teen 11 Januarie slegs 32c van die bedrag in die rekening oor. Die geld is onder meer aan selfoonlugtyd en kruideniersware bestee.

Simpson het die getuie daarop gewys as hy werklik nooit deel van ’n moordplan wou gewees het nie, kon hy die R4 400 eerder as bewysstuk aan die polisie oorhandig het.

Geld ‘veilig bewaar’

Die getuie het egter gesê hy het nie die geld aan die polisie gegee nie omdat niemand hom daarvoor gevra het nie. Hy het volgehou hy het die R4 400 later “iewers veilig gehou”, ten spyte van sy erkenning dat geld uit die rekening bestee is.

Simpson wou ook meer weet van ’n video-opname wat die getuie van De Bruin gemaak het. Hy het gevra waarom hy die gesprek op video sou opneem as hy self nooit van plan was om by die beweerde moord betrokke te raak nie.

Die getuie sê hy wou op dié manier onthou wat De Bruin gesê het. Simpson het egter aangevoer dit wys juis die getuie kon ’n ander doel met die opname gehad het en hy het De Bruin moontlik doelbewus in ’n lokval gelei.

Die getuie ontken dit en sê hy het aanvanklik probeer om De Bruin van haar plan te laat afsien. Nadat hy besef het sy is ernstig, het hy besluit om haar planne op video vas te lê en die polisie te nader.

Die naam “Herman” het ook nuwe vrae oor die getuie se weergawe laat ontstaan.

Die getuie het gesê dit was die kodenaam vir die beweerde huurmoordenaar. Simpson het hom egter daarmee gekonfronteer dat dié naam nie in sy vorige verklarings of die video-opname voorkom nie.

Simpson voer aan die getuie het De Bruin moontlik laat glo iemand is beskikbaar om haar man te vermoor. Die getuie het dit ontken en volgehou as hy nie met haar sou saamgespeel het nie, sou sy bloot iemand anders gekry het om die beweerde moord uit te voer.

Die kruisondervraging was toegespits op die vraag waarom die getuie die gesprek op video opgeneem en haar laat glo het iemand sou wel haar man kon vermoor het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.