Central SA
Geliefde Bethlehemiet sterf twee weke ná N1-ongeluk─── SUSAN MARÉ 14:29 Tue, 22 Sep 2026
Honderde mense verwoord hul hartseer ná die nuus dat die geliefde Marie van Zyl van Bethlehem Sondag (20/9) in die Rosepark-hospitaal oorlede is.
Sy en haar man, Bok, mede-eienaars van Cheetau Game Lodge buite Bethlehem, was twee gelede op die Fouriesburgpad in ’n ernstige motorongeluk. Hulle was onderweg na die Kaap toe hul motor en ’n vragmotor op die N1 tussen Bloemfontein en Colesberg gebots het.
Marie is daarna met ernstige kopbeserings in die hoësorgheeid van die Rosepark-hospitaal opgeneem waar sy en medici vir twee weke lank om haar lewe geveg het. Bok is ook in die ongeluk beseer, maar kon behandel word.
Ds. Dougy Bubb het die tragiese nuus in ’n boodskap aan gemeentelede van die NG kerk Bethlehem-Efrata oorgedra, waar hulle lidmaat was. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Marie van Zyl was baie lief vir diere. Foto verskaf
Cheetau Lodge is ’n gewilde vierster-wegbreekplek en teelplaas vir groot katte. Die egpaar het die plaas in 2012 gekoop en onder Marie se hand het die restaurant ’n gewilde bestemming geword; so ook haar gastehuisbedryf op die plaas.
Sy het haar kreatiwiteit uitgeleef as sjef in haar restaurant en het dieretemas in die gastehuisbedryf op die plaas uitgeleef. As fotograaf is haar foto’s van die natuur en diere op haar Facebookblad nog ’n getuienis van haar diep kunssinnigheid. Sy was ook ’n kranige gholfspeler en kon die pyporrel bespeel.
Oral op die sosiale media betreur vriende en kennisse haar heengaan. Yolande Nortjé van Bethlehem skryf: “Liefste Marie, jy laat ’n verskriklike leemte agter. Jou glimlag en liefde vir so baie mense gaan gemis word. Oom Bok, ons bid vir Oom.”
Nog ’n vriendin van Bethlehem, Therese Coetzee, skryf: “Ai, ai, ai. Marie, your homemade bread was always the bestest ever. May your dear soul rest in peace.”
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Bethlehem het ’n noue band met Marie gehad. Sy het altyd ’n oop hand en hart gehad vir dié organisasie.
Marius Dreyer, voorsitter van die DBV op Bethlehem, sê Marie was baie lief vir diere. “Sy het ons nooit vergeet nie, veral in ysige winters as ons krag nodig gehad het om die infrarooi ligte te laat brand.
“Sy het ’n pragtige menswees gehad. Ons treur saam oor haar.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
