On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Plaasskool ’n erfenisskat: Wildebeeslaagte se oudleerlinge herenig

───   SUSAN MARÉ 16:25 Tue, 22 Sep 2026

Plaasskool ’n erfenisskat: Wildebeeslaagte se oudleerlinge herenig | News Article
Die ou gebou waar die Wildebeeslaagte-plaasskool was. Foto verskaf

’n Vrystaatse plaasskool het so ’n ryk nalatenskap dat leerlinge 55 jaar ná die skool se sluiting in 1972 ’n reünie gaan hou.

Oudleerlinge van die Wildebeeslaagte-plaasskool in die distrik Marquard sien baie uit na die reünie Saterdag (26/9) by die Senekal-padstal. Die oudste oudleerling van die skool, wat in in 1931 geopen is, is 91 en die jongste 61.

Afgetrede onderwysman Alwyn Froneman van Harrismith het in samewerking met ander leerlinge ’n reüniebundel van 54 bladsye saamgestel. Die fotoryke bundel is ’n skat van herinneringe en staaltjies en verbeeld die wel en weë van dié skool. Talle leerlinge het hul herinneringe gedeel.

Die Froneman-familie het soos vele ander families sterk bande met die skool gehad. Plaasskole het ’n deurslaggewende rol gespeel deur formele onderwys en opvoeding na die mees afgeleë plattelandse gemeenskappe te bring.


Dit was vir meer as ’n eeu die hartklop van baie landelike gebiede waar ’n noue verband tussen die ouerhuis, die kerk en die plaasgemeenskap bestaan het.

Froneman sê teen die einde van die 20ste eeu het baie begin sluit weens verstedeliking en die feit dat plaasskole ekonomies nie meer lewensvatbaar was nie. In die Vrystaat was dit dikwels ’n reddingsboei om oor uitgestrekte afstande formele onderwys na kinders te bring.

Wildebeeslaagte-plaasskool het vlak aan die grondpad van Rietspruit na Marquard gelê. Dit was ’n puik plaasskool met ’n leerlingtal van tussen 80 en 100. Die kinders het later in alle sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing presteer. Die skool het selfs ’n rugbyspringbok soos Mof Myburgh en ’n Olimpiese silwermedaljewenner soos Jan Theron, ’n stoeier, opgelewer.

Drie legendariese onderwysers van Wildebeeslaagte: Mej. M.F. Viljoen, mnr. S.E.T. Prinsloo en mej. C.E. Pretorius. Foto verskaf

Die skool is in Januarie 1931 deur Fanie Uys ter wille van die plaas se kinders, opgerig. Dit was ’n groot plaas met verskeie families wat die grond bewerk en bewoon het. Dit skool het beskeie met 20 leerlinge begin. Later het kinders van omliggende plase bygekom. Die eerste onderwyseres, me. Kitty Botha, is later met ’n Uys getroud.

In 1943 was daar heelwat kinders – 107 – en was ’n vierde klas nodig. ’n Groot vertrek van die eertydse prinsipaalwoning is tydelik gebruik. Twee busse het nou kinders na die skool vervoer, die een deur die distrik Marquard en die ander deur die distrik Senekal.

Besonders van Wildebeeslaagte was dat die skool vir jare die sentrale fokuspunt was van die omgewing se kultuurlewe. Daar is biduur gehou asook kategese, bioskoopaande en boeresport, en sport soos rugby, korfbal en tennis is beoefen en selfs polo.

Alwyn Froneman, samesteller van die bundel Wildebeeslaagte Skool. Foto verskaf

Die eerste skoliere het die skool te voet en te perd besoek. Later het hulle met eenperdkarretjies wat treppies genoem is, skool toe gery. Die owerhede het behoeftige leerlinge gehelp om donkies as vervoermiddel te kry as hulle verder as twee myl (ongeveer 3,2 km) van die skool gewoon het. Die departement van onderwys het ook ’n voedingskema gebied.

Gys Kriel, ’n oudleerling (1952 – 1958) het ook sy herinneringe in die bundel gedeel. Hy skryf drie busse het later uit verskillende windrigtings leerlinge na die skool vervoer.

Die Kriels moes met ’n treppie ry om by die bus uit te kom. Dit was sowat vyf tot ses kilometer tot by die “bushalte” en die treppie is eers deur die perd Ruby en later Kroon getrek. “Dit was wonderlike, genotvolle en kommervrye sewe jaar op Wildebeeslaagte. Dit was vormende jare en ek onthou dit met mooi herinneringe en ’n traan in die oog.


Tersia Odendaal (Muller), oudste lewende skolier van Wildebeeslaagte in die distrik Marquard, op 90 jaar. Foto: Susan Maré

“As ek dit vergelyk met dit wat vandag se kinders deurmaak, besef ek hoe uiters bevoorreg ons was met ’n skoollewe op Wildebeeslaagte wat ek vir niks sal verruil nie.”

Die Springbok Mof Myburgh wat in 2012 oorlede is, se talryke herinneringe saam met sy suster Joey oor Wildebeeslaagte is ook in die bundel. Hy het dit aan Antonie Froneman, die argivaris van die groep, gestuur. Mof het in 18 toetse vir die Springbokke gespeel en sy laaste toets was ’n wentoets teen die All Blacks in 1970.

In sy stuk oor persoonlike herinnering skryf Antonie (1961-1967): “Vandag is daar net murasies oor van ’n eens topskool wat trots kon wees op arm, kaalvoetkindertjies wat groot hoogtes in die lewe bereik het.

Die mooi plaasskoolgebou van Wildebeeslaagte bestaan nie meer nie. Foto verskaf

“As ’n mens daar verbyry en die ou akkerboom en laning seringbome sien, is dit of die ou koperklok se klanke nog hoorbaar is. ’n Mens dink terug aan topgooi, giffie, abdol, perdry van sonop tot sononder, ja, kaalvoet en sorgeloos. En die mistigheid. Is dit dalk die Queen-stofies wat in elke klas was se rook, of ook ’n wasigheid oor my oë …?”

Alwyn Froneman, samesteller van die bundel Wildebeeslaagte Skool (1931-1972), vertel meer van die reünie Saterdag (26/7). Dit is die enigste reünie wat daar ooit sal wees. “Ons verwag meer as 50 oudleerlinge van sowat 70 name wat ons het. Van hulle kom van so ver as Klerksdorp en Pretoria.”

Die oudste leerling, Tersia Odendaal (Muller), wat in 1936 gebore is, kom op 90 jaar. Van die laaste leerlinge in 1972, soos Johan Nel en Sanet Schoeman (Nel), in hul sestigs, gaan ook daar wees. “Die saamkuier by die Senekal-padstal gaan groots en onvergeetlik wees. Dit begin om 10:00 en duur tot 15:00.”

OFM Nuus/Susan Maré cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.