On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystater jaag rugbydroom na duisende kilometer van huis af

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:04 Wed, 23 Sep 2026

Vrystater jaag rugbydroom na duisende kilometer van huis af | News Article
Ben-Hendrik Jansen van Vuuren. Foto verskaf

Vir ’n Vrystaatse rugbyspeler is duisende kilometers van die huis af nie genoeg om sy droom van internasionale rugby te laat vaar nie.

Ben-Hendrik Jansen van Vuuren (29) is ’n gebore Bellvilliet, maar het die grootste deel van sy lewe in Bloemfontein deurgebring. Sy liefde vir rugby het reeds in gr. 1 aan die Primêre Skool Universitas begin. Hy het later sy skoolloopbaan baan Grey-kollege voortgesit, waarna hy aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie studeer en as siviele ingenieur gekwalifiseer het.

Sy pad na Asië het in 2021, tydens sy laaste studiejaar, begin toe hy sy afrigter gevra het of hy enige rugbykontakte oorsee het. Dit het eindelik daartoe gelei dat hy aan ’n kontak in Beijing voorgestel is. In 2023 het hy daar as kleuterskoolonderwyser begin werk en terselfdertyd vir die Beijing Ducks rugby gespeel.


Ná sowat vier seisoene in Beijing het hy begin soek na ’n meer permanente en professionele rugbygeleentheid. Hy het in 2024 aanvanklik vir Hong Kong Scottish gespeel, voordat hy later dieselfde jaar by Kowloon Rugby Club aangesluit het. Hy is tans in sy derde seisoen by die klub.

Ben-Hendrik se groter doelwit bly egter om heeltyds rugby te speel. Foto verskaf

Ben-Hendrik, ’n veelsydige stut wat op vaskop en loskop kan speel, het reeds verskeie hoogtepunte in Asië beleef. Hy is elke seisoen óf as speler van die seisoen óf as voorspeler van die seisoen aangewys, terwyl hy in sy eerste seisoen by Kowloon as Team Man of the Year aangewys is.

“Ek geniet my tyd baie hier. Verlede jaar het ons die semifinale gehaal en hierdie seisoen gaan ons hard druk om die finaal te haal.” Hy is veral dankbaar teenoor Kowloon omdat die klub hom ’n geleentheid gebied het nadat daar nie meer plek vir hom by Hong Kong Scottish was nie.

Sy groter doelwit bly egter om eindelik heeltyds rugby te speel en die geleentheid te kry om homself op ’n hoër vlak te bewys. Hongkong se nasionale rugbyspan se deelname aan die Wêreldbeker bied vir hom ’n besondere geleentheid, en hy hoop groter blootstelling kan daartoe lei dat hy vir die nasionale span raakgesien word.

Hy speel nou vir Kowloon Rugby Club. Foto verskaf

“My groot doelwit is om vir Hongkong se nasionale span gekies te word, met die kans om selfs aan die Wêreldbeker deel te neem,” vertel hy. “Rugby is my lewe en my doel is om voltyds te speel. ’n Geleentheid om by ’n span aan te sluit waar ek permanent kan rugby speel, sal vir my baie beteken.”


Agter sy droom staan ’n familie wat hom al van kleins af ondersteun het. Sy ma, Marlien, is veral trots op die mens wat hy geword het en op sy vermoë om, ondanks die afstand van die huis, steeds aan sy droom vas te hou.

“Ek is verskriklik trots op my kind en op die tipe mens wat hy geword het. Ek het nooit gedink dat hy dit sou regkry om so ver van sy mense af te wees en steeds sy droom na te jaag nie.”

Volgens sy ma sit Ben-Hendrik alles in om sy doelwit te bereik. Foto verskaf

Sy sê dit is juis sy volharding wat hom oor die jare onderskei het. Sy het hom deur teleurstellings, beserings en kere wat hy nie vir ’n span gekies is nie, sien opstaan en weer probeer. “Hy is daardie een kind wat nooit ’n oefening gemis het nie. Hy sit werklikwaar alles in om sy doelwit te bereik.”

Omdat Kowloon nie ’n professionele klub is nie, moet spelers van hul eie uitgawes betaal. ’n Spelersborgskap van HK$5 000 (ongeveer R10 000) sal onder meer sy klubfooie vir die hele seisoen en ’n volledige stel rugbyklere dek.

Ben-Hendrik se familie en vriende probeer tans help om dié bedrag bymekaar te kry. “Die hoeveelheid maak werklik nie saak nie. Dit is die gewilligheid om te gee en te help wat vir ons baie meer beteken. Elke bydrae, hoe klein ook al, bring hom net ’n bietjie nader aan sy doel,” sê Marlien.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.