On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vier jong mense dood: Strafsaak teruggetrek weens te min bewyse

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:42 Wed, 23 Sep 2026

Vier jong mense dood: Strafsaak teruggetrek weens te min bewyse | News Article
Dié vier jong mense het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf

Twee jaar ná die dood van vier jong mense in Noordwes is hul naasbestaandes woedend en teleurgesteld nadat die strafsaak teen die beskuldigde voorlopig teruggetrek word omdat daar glo nie tans genoeg bewyse is om dit voort te sit nie.

Edward Letsie (34) staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag in verband met die dood van Ruan Esterhuizen (21), Jackie Willis (21), Max Knott-Craig (22) en Jané Janse van Rensburg (19). Die families is egter nou meegedeel die saak word voorlopig teruggetrek vir verdere ondersoek.

Die familie is Donderdag 17 September na die streekhof gestuur, waar aan hulle verduidelik is dat die dossier verdere bewyse benodig, sê een van die familielede aan OFM Nuus.

“Daar is aan ons verduidelik dat die saak op ’n voorlopige grondslag teruggetrek word sodat ondersoekbeamptes maandeliks die geleentheid kan kry om die dossier verder te ondersoek en die ontbrekende bewyse by te voeg.”

Die laaste groepfoto saam met Jackie, Ruan en Max. Foto verskaf

Die familie is meegedeel dat die saak wel op Donderdag kon voortgaan, maar dat daar nie genoeg bewyse is om ’n spoedoortreding te bewys nie. Volgens die verduideliking aan hulle kan die beskikbare bewyse moontlik tot ’n boete lei, terwyl sterker getuienis wat bewys dat Letsie die spoedgrens oorskry het, die saak kan versterk.

Daar is gevolglik geen nuwe hofdatum aan die familie gegee nie en hulle moet nou wag terwyl die ondersoek volgens hulle “maand vir maand” voortgaan.

Met ’n vorige verskyning op 21 Julie het streeklanddros Tinus Boonzaaier gesê reëlings moet getref word vir ’n ander landdros en staatsaanklaer omdat Letsie voorheen as prokureur in Klerksdorp gepraktiseer het. Letsie is van die rol geskrap, maar dit is nie duidelik waarom nie.

Die saak is ook die afgelope paar maande vertraag deur verskeie regsverteenwoordigers wat hy gehad het en wat by meer as een geleentheid nie by die hof opgedaag het nie. Hy het byna 18 maande ná die ongeluk, op 23 Januarie, vir die eerste keer in die hof verskyn.

Die jong mense se families wag nou op verdere ontwikkelinge in die ondersoek en hoop dat die ontbrekende bewyse gevind sal word sodat die saak weer op die hofrol geplaas kan word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.