On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

NVG oorweeg appèl ná mans van moord op egpaar vrygespreek is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:50 Thu, 24 Sep 2026

NVG oorweeg appèl ná mans van moord op egpaar vrygespreek is | News Article
Wilma en George en Koster. Foto: Pretoria Flying News

Die NVG bestudeer en ontleed die hof se uitspraak nadat twee mans van Noordwes van die moord op ’n bejaarde egpaar vrygespreek is.

Onke Mbongo (31) en Gift Tinyiko Mhlanga (29) is Dinsdag (22/9) in die rondgaande hof in Mogwase skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg, maar is op die aanklagte van moord vrygespreek. “Die moontlikheid van ’n appèl word intussen oorweeg,” sê Sivenathi Gunya, NGV-woordvoerder.

Die NVG kan nie in hierdie stadium oor die beeldmateriaal of getuienis wat voor die hof aangebied is kommentaar lewer nie. “Ná die nodige ondersoek sal ’n besluit geneem word.”

Mbongo en Mhlanga is daarvan beskuldig dat hulle George Koster (69) en sy vrou, Wilma (65), op 14 Junie verlede jaar helder oordag in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg geskiet het.

Die Koster-egpaar se voertuig op die toneel. Foto: SAPD

Die twee mans het glo in ’n wit Kia by die parkeerterrein aangekom en langs die Kosters se silwer Jeep gestop. ’n Argument het glo ontstaan nadat een van die mans die Kia se deur teen die Jeep gestamp het.

Lt.kol. Patrick Murunwa, ondersoekbeampte, het in die borgtogaansoek getuig George het glo uit sy voertuig geklim om die skade te bepaal, waarna die konfrontasie ontstaan het. Mbongo het aangevoer hy het hom verdedig nadat George hom glo met ’n knopkierie aangeval en hy vir sy lewe gevrees het.

Murunwa het egter getuig dat geen ander wapen, buiten die knopkierie, op die toneel gevind is nie. Hy sê vier ooggetuies het aangedui dat Mbongo nie uit selfverdediging opgetree het nie.

Die staat beweer dat Mbongo George geskiet het voordat Mhlanga, wat die Kia bestuur het, in trurat begin ry het. Wilma het glo daarna die Kia se linkeragterruit met ’n knopkierie gebreek, waarna sy ook geskiet is.

Die twee mans is op 17 Junie in hegtenis geneem nadat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid inligting van onder meer gemeenskapslede ontvang het.

Hulle is Dinsdag in die moordsaak vrygespreek, maar is skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg nadat hulle van die toneel gevlug het en volgens die staat nie die voorval by die polisie aangemeld het nie.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.