On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Pulane
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Onderwyseres van Welkom ernstig beseer in panga-aanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:47 Sat, 26 Sep 2026

Onderwyseres van Welkom ernstig beseer in panga-aanval | News Article
’n Onderwyseres van Welkom is glo met ’n panga aangeval. Foto ter illustrasie: iStock

Die polisie en onderwysdepartement vra die publiek om nie enige inligting oor die aanval op die onderwyseres te versprei nie.

Die onderwyseres (62) van die Teto Secondary School  in Thabong, Welkom, is na bewering Woensdagmiddag (23/9) by haar woning in Dagbreek deur ’n gr. 11-leerder aangeval. “Sy is verskeie kere op haar kop en hande met ’n panga gesteek,” sê Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys.

Sy het omstreeks 12:40 van die werk gekom en opgemerk daar is met haar deur gepeuter en dat dit effens oop is. Sy is na bewering buite haar woning deur ’n aanvaller met ’n klapmus gekonfronteer en met ’n panga aangeval, sê sers Palesa Thabana, provinsiale polisiewoorder.

Tydens die struweling kon sy glo daarin geslaag om die aanvaller se gesig te sien voordat hy gevlug het. “Die aanvaller het na bewering geld geëis en daar is glo geld ná die aanval verskeie kere met haar bankkaart uit haar rekening onttrek.”  

Poging tot moord

Ndaba sê die onderwyseres het veelvuldige ernstige beserings opgedoen. “Sy is intussen in ’n stabiele toestand na ’n chirurgiese saal oorgeplaas.” 

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord en het beslag gelê op die panga. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Thabana.

Die slagoffer kon weens die erns van haar beserings nog nie verdere inligting verskaf om hom te identifiseer nie. Die onderwysdepartement bevestig sy is reeds 38 jaar by die skool en is ’n toegewyde onderwyseres. 

Dr. Mamiki Maboya, Vrystaatse LUR vir onderwys, het die aanval ten sterkste veroordeel en die Lejweleputswa-onderwysdepartement opdrag gegee om te verseker sy en haar familie kry die nodige ondersteuning.

Die departement werk nou saam met die polisie en vra die publiek om nie foto’s, video’s en ander onbevestigde inligting te versprei nie.  

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.