Central SA
Saak teen Virginia-man oor seksuele misdrywe uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:58 Mon, 28 Sep 2026
’n Vrystater, wat van ’n reeks seksuele misdrywe met seuns beskuldig word, kom na verwagting weer in November in die hof voor.
Jaco Roets (45) se eerste hangende saak, wat verband hou met verskeie beweerde seksuele misdrywe oor ’n aantal jare, is Woensdag (23/9) in die Virginia-streekhof voortgesit en tot 16 November vir verdere verhoor uitgestel. ’n Tweede afsonderlike saak teen Roets sal op 14 Oktober in die landdroshof dien.
Die twee sake sluit aanklagte van seksuele aanranding, verkragting, seksuele voorbereiding van kinders, statutêre verkragting, die blootstelling van ’n kind aan pornografie en die beweerde besit van kinderpornografie in.
Volgens die nuwe klagstaat hou laasgenoemde aanklag verband met materiaal wat na bewering in Junie 2018 in Roets se besit was. Die staat beweer verskeie onwettige foto’s en videos is op ’n Lenovo-skootrekenaar gevind. Die staat beweer verder Roets het op kwesbare seuns en jong mans gefokus deur hulle na bewering met sy voertuig te nader of op te laai en daarna ’n vriendskap met hulle aan te knoop.

Jaco Roets. Foto verskaf
Dié beweerde werkswyse was glo daarop gemik om hom toegang tot kwesbare jong mense te gee. Roets word ook daarvan beskuldig dat hy in Augustus 2017, toe hy om werk by ’n veiligheidsmaatskappy aansoek gedoen het, versuim het om sy vorige skuldigbevinding aan ’n seksuele oortreding teen ’n kind of verstandelik gestremde persoon bekend te maak.
Hy is in 2012 aan ’n seksuele oortreding skuldig bevind en is daarna in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem. Die bewerings in die ander hangende saak strek volgens die klagstaat terug tot 2000. Die staat beweer ook dat Roets in Julie 2018 probeer het om die regsproses te verydel deur ’n vrou na bewering te probeer oorreed om ’n valse verklaring aan die polisie af te lê oor ’n beweerde voorval op 9 Junie 2018.
Hy is in 2018 weer in hegtenis geneem in verband met seksuele misdrywe, maar is op borgtog vrygelaat. Hy is in 2025 vir ’n derde keer in hegtenis geneem en het op 8 Desember in die Virginia-landdroshof verskyn op nuwe aanklagte, waaronder seksuele aanranding, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, seksuele voorbereiding en uitlokking.
Sy borgtogaansoek is geweier. Landdros Annaria Campher het tydens die borgtogaansoek aangevoer dat Roets na bewering sy slagoffers vir seksuele doeleindes teiken.
Die staat het aangevoer dat hy ’n gevaar vir seuns in die gemeenskap inhou en na bewering ’n soortgelyke werkswyse gebruik om slagoffers te teiken. Meer as 300 inwoners het binne twee dae ’n petisie onderteken wat tydens sy hofverskyning aan die hof oorhandig is.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

