Central SA
Klerksdorp-man se moordsaak weer op rol geplaas─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:17 Tue, 29 Sep 2026
’n Man van Noordwes sal Vrydag (2/9) weer in die hof verskyn nadat sy moordsaak opnuut op die hofrol geplaas is.
Quinn van den Bergh (40) het Maandag (28/9) in die hooggeregshof in Klerksdorp verskyn nadat sy saak weer op die rol geplaas is. Verdere kwessies rakende die saak sal Vrydag in die hof gehanteer word, insluitend argumente oor die waarneming van sy kliënt, sê André van Aswegen, sy regsverteenwoordiger.
Die saak hou verband met die dood van Van den Bergh se voormalige verloofde, Barbara Groenewald (31), wat op 22 Oktober 2022 in haar huis vermoor is. Die beskuldigde het hom twee dae ná die moord aan die polisie oorgegee en erken dat hy verantwoordelik is.
Volgens ’n beëdigde verklaring deur ao. Tharina Kemp, die ondersoekbeampte, het Van den Bergh die aand van die moord na Groenewald se huis gegaan om te kyk met wie sy op haar selfoon kommunikeer. Hy het steeds ’n sleutel van die huis gehad.

Quinn van den Bergh en Barbara Groenewald. Foto: Facebook
Nadat Groenewald wakker geword het, het ’n rusie glo ontstaan waarin hy haar met ’n mes gesteek het.
Luidens sy verklaring aan die polisie het hy daarna petrol in die huis gegooi en dit aan die brand gesteek omdat hy gevrees het dat hy bewyse agtergelaat het. ’n Nadoodse ondersoek het getoon Groenewald het steek- én brandwonde opgedoen en nog gelewe toe die brand begin het.
Die moordsaak is reeds twee keer van die hofrol geskrap. Dit is aanvanklik in Mei van die rol verwyder nadat die staat nie kon verduidelik waarom nie aan ’n hofbevel voldoen is dat Van den Bergh ’n tweede keer vir sielkundige waarneming moes gaan nie.
Die saak is later weer op die rol geplaas, maar opnuut geskrap nadat bevind is die korrekte prosedure is nie gevolg nie. Die saak is intussen weer op die rol geplaas en van die streekhof na die hooggeregshof oorgeplaas.

Van Aswegen sê aan OFM Nuus ondanks herhaalde pogings kon hy nie Maandag die oorspronklike klagstaat bekom nie. ’n Nuwe een is verlede jaar opgestel en die verskille tussen die dokumente is van die kwessies wat verder gehanteer moet word.
Van den Bergh is in Oktober verlede jaar weer in hegtenis geneem nadat Groenewald se ma, Estelle, die privaat speurder Mike Bolhuis genader het. Hy is op 6 Oktober op R2 000-borgtog vrygelaat.
Tydens sy borgtogaansoek het die hof gehoor Van den Bergh is van plan om skuld te ontken en dat moontlike “sielkundige stresfaktore” volgens die verdediging ’n rol in die voorval kon gespeel het.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
