On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

’n Nuwe begin ná verslawing: Aurora vier 60 jaar

───   SUSAN MARÉ 15:12 Tue, 29 Sep 2026

’n Nuwe begin ná verslawing: Aurora vier 60 jaar | News Article
Die Aurora-drank-en-dwelmrehabilitasiesentrum in Bloemfontein vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar. Foto verskaf

Aurora, ’n drank-en-dwelmrehabilitasiesentrum vir middelafhanklikes in Bloemfontein vier op 9 Oktober sy 60ste bestaansjaar met ’n gala-aand. Die dag daarna word die tweejaarlikse reünie vir oudpasiënte gehou.

Die gasspreker op die gala is die akteur en skrywer Milton Schorr. Hy het ’n kragtige getuienis oor sy stryd met afhanklikheid en die steil lewenspad wat hy na twee dekades steeds loop.

Die 60 jaar van Aurora is ’n besonderse mylpaal. Dit is ’n leeftyd se verskil in die lewe van duisende middelafhanklikes en ook dié van hul geliefdes. OFM Nuus het met Marietjie Landsberg, direkteur van Aurora sedert 2022, gesels.

Marietjie Landsberg. Foto verskaf

Aurora kom van die Latynse woord Aurora wat in die Romeinse tyd die godin van sonsopkoms was. Die simboliek daarvan wys heen op ’n nuwe begin, hoop, vernuwing en die eerste lig wat na nagdonkerte breek. Die aurora borealis is ook bekend is as die noorderlig wat in die verre noordelike poolstreke gesien kan word.

Die verstommende sukses van Aurora, ’n nie-winsgewende organisasie, word in die syfers van die 2025/26-boekjaar weerspieël: Die getal volwasse binnepasiënte was 13 953. Buitepasiënte was in dié tydperk 1 529. Nog 720 jeugdiges is by Aurora sedert die jeugprogram in 2010 begin het, behandel.

Marietjie sê: “Ons is in die bedryf van hoop. Afhanklikheid kies ’n mens, nie klas nie. Die meeste pasiënte wat by Aurora aanklop, is van die Vrystaat, Noord-Kaap en ook elders in Suid-Afrika. Ons is dankbaar vir baie suksesverhale wat lewens van donker na lig help omkeer het.”


Aurora het plek vir 52 binnepasiënte, 30 beddens vir mans, twaalf vir vroue en tien vir jeugdiges. Die sentrum volg ’n spesifieke program wat aangebied word deur die multiprofessionele span. Daar is ook 30 dae behandeling vir buite-pasiënte en mediese detoksifiseringprogramme vir matige, ligte onttrekkingsimptome.

Die program bied ook sterk fokus op die ondersteuning aan die pasiënt se geliefdes. Aurora doen voorkomings- en bewussynswerk en bied ook slypskole aan. Dit is veral die gebruik van meer as een middel onder jeugdiges en tieners wat kommer wek, sê Marietjie. Die middels is alkolhol, dagga, metamfetamien en tik.

Samewerkingooreenkoms

Aurora en Bloemcare het vroeër vanjaar ’n samewerkingooreenkoms aangegaan vir pasiënte met dubbele diagnoses. Baie mense wat hulp soek, het tegelyk geestesgesondheid- en verslawingsprobleme. “Pasiënte herstel dikwels nie as net een van die twee probleme aangespreek is nie,” sê Marietjie. “Die behandeling moet holisties wees.”

Aurora bied mediese detoksifikasie, die dienste van ’n multiprofessionele span en is bekostigbaar vir staatspasiënte. Volgens statistieke beïnvloed een afhanklike 44 mense se lewens negatief.

As daar hierna gekyk word, en die getal 44 vermenigvuldig word met die aantal pasiënte wat suksesvol behandel is, was Aurora instrumenteel om baie mense se lewens beter te maak. Dit raak mense in alle beroepsrigtings.

Een van Aurora se geboue. Foto verskaf

Marietjie is al byna twee dekades aan Aurora verbonde. Sy is op Brakpan gebore en het ná skool ’n graad in maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar meestersgraad in 2010 verwerf. Die afgelope 17 jaar is haar loopbaan gefokus op die veld van middelmisbruik en -steurings of -afhanklikheid. Dit is haar passie om met mense wat hiermee worstel te werk.

Haar jare as maatskaplike werker by Aurora het in 2008 as terapeut begin. In 2017 is sy tot senior maatskaplike werker bevorder wat beteken het sy moes die jeugsentrum- en die volwasse sentrum-programme bestuur. Sy was ook verantwoordelik vir toesig oor maatskaplike werkers en die terapeutiese span.

Marietjie is in 2022 tot direkteur bevorder. Haar pos behels algemene strategiese werk asook personeelbestuur van Aurora. Sy verteenwoordig Aurora op verskeie forums en platforms wat gemoeid is met die uitdagings van middelafhanklikheid in gemeenskappe.

‘Ons lewer ’n uitstekende, bekostigbare professionele diens juis omdat 
ons nie op winsbejag gefokus is nie’

“Hoewel Aurora ’n organisasie sonder winsoogmerk is, is daar moontlik die gedagte dat ons dienste lewer wat nie op standaard is nie. Die teenoorgestelde is egter waar.

“Ons lewer ’n uitstekende, bekostigbare professionele diens juis omdat ons nie op winsbejag gefokus is nie. Ek is dankbaar dat Aurora ’n gerekende kenner in die veld is en moenie onderskat word omdat ons ’n NPO is nie.

“Aurora is een van mediese hulpfondse se voorkeur-diensverskaffers. ’n Beperkte aantal opnames word deur die staat gesubsidieer. Hier by Aurora bestaan ons terapeutiese span uit maatskaplike werkers, sielkundiges, pastorale beraders, dokters en psigiaters.”

Die sentrum bied graag inligtingsessies en selfs opleidingsessies by kerke, skole en organisasies na behoefte aan. “Aurora kan werkgewers help om spesiale programme vir hul besigheid te help ontwikkel en beleidsdokumente help skryf sodat wetgewing hier gevolg kan word,” vertel Marietjie. “Dieselfde diens kan aan skole verskaf word.

“Ons praatjies is opvoedkundig en inligting-gedrewe, wat ’n meer positiewe en wetenskaplike manier bied om die spesifieke probleem te hanteer.”

Vir nog inligting, bel Marietjie by 051 447 4111 of stuur e-pos na info@auroracentre.co.za.

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.