On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Wepener-man herstel ná gewapende rooftog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Wed, 30 Sep 2026

Wepener-man herstel ná gewapende rooftog | News Article
Americo Franca. Foto verskaf

Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat ’n Vrystaatse man drie keer geskiet is tydens ’n gewapende rooftog buite sy huis.

Americo Franca (61) van Wepener is reeds vyf dae in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein nadat hy Saterdag (26/9) omstreeks 03:30 geskiet is. Hy was op pad om varsprodukte vir die winkel waar hy werk in Bloemfontein te gaan aankoop toe die skietery plaasgevind het, sê Anel, sy vrou.

Franca werk by ’n klein winkel op die dorp wat varsprodukte en kruideniersware verkoop en ry gewoonlik twee tot drie keer per week vroegoggend Bloemfontein toe om produkte by die mark te bekom.

Anel sê haar man het omstreeks 03:00 opgestaan en teen 03:30 was Franca buite die erf met die werksbakkie en sleepwa. Nadat hy die hek toegemaak en weer in die bakkie geklim het, het hy twee onbekende mans met klapmusse na hom sien aangehardloop kom.

Americo Franca en sy vrou, Anel. Foto verskaf

“Hy het die bakkie aangeskakel en die helder ligte aangesit in ’n poging om hulle af te skrik. Een van hulle het op hom geskiet, maar die eerste skoot het hom gemis.”

Franca het probeer wegry, waarna die mans hom deur die ruit aan die bestuurderskant geskiet het. Die koeël is deur sy regterarm, deur sy borskas en verby sy hart voordat dit sy long effens geskraap het.

“Hy het daarna uit vrees vir sy lewe gestop, waarna die mans hom uit die bakkie getrek en op die grondpad gegooi het. Hulle het geld geëis en Franca het die R20 000 wat sy werkgewer aan hom gegee het om varsprodukte te koop vir hulle gegee.”

Franca het reeds 'n knie-operasie ondergaan. Foto verskaf

Een van die aanvallers het met die geld gevlug, maar sy makker was steeds nie tevrede nie en het glo nóg geld geëis. “Hy het gesmeek dat hy hom nie doodskiet nie, waarna hy nog twee keer in die linkerbeen geskiet is,” vertel ’n emosionele Anel.

Sy en haar 15-jarige seun was in die huis toe hulle die skote hoor. Sy het Franca hoor roep en hom, nadat sy weens vrees en spanning gesukkel het om die deur oop te sluit, op die pad aangetref. “Ek het probeer om die polisie te bel, maar die nommer was nie in werking nie. Ek het toe met die voertuig wat deur die koeëls beskadig is, na die polisiekantoor gery om hulp te kry, waarna polisiebeamptes na die toneel is.”


’n Staatsambulans is ook ontbied en Franca is eers na Rosepark-hospitaal geneem voordat hy na Pelonomi oorgeplaas is. Anel sê die mediese nooddienste en Wepener-polisie het uitstekende diens gelewer.

Franca het Dinsdag (29/9) sy eerste operasie ondergaan aan sy been nadat die koeëls sy knie versplinter het. As sy liggaam goed op die behandeling reageer, sal hy moontlik nie weer geopereer hoef te word nie.

Anel sê hy is by sy bewussyn, maar ontvang suurstof omdat sy longe swak is. ’n Dreineringspyp in sy sy word gebruik om bloed en vloeistof uit die longgebied te verwyder. Die koeël wat in sy bors vassit, sal volgens die dokters nie verwyder word nie, aangesien hulle van mening is dit is veiliger is om dit daar te laat as wat verdere chirurgie sou wees.

Franca is op pad werk toe geskiet. Foto verskaf

“Ons weet nog nie wanneer Franca ontslaan sal word nie en sy herstel kan moontlik maande duur. Hy sal waarskynlik weer moet leer loop en kan moontlik rehabilitasie benodig. Al wat ons weet, is dat hy voor die voorval die gesondste mens op aarde was. Nou is hy sieklik.”

Anel sê die trauma van die voorval kan ook ’n groot invloed op Franca se vermoë hê om weer te werk. “Hy sukkel emosioneel ná wat gebeur het en herleef die voorval wanneer hy sy oë toemaak. Ek vrees ook dat hy ná die aanval te bang sal wees om weer in die vroeë oggendure op die pad te wees.”

Franca is die enigste broodwinner en Anel sê sy is tans afhanklik van ander mense vir vervoer tussen haar huis en Bloemfontein. Die gesin het ’n fondsinsameling begin. “Vir elke persoon wat al ’n bydrae gemaak het, nie net hier nie, maar dwarsoor die wêreld – uit die diepte van ons harte sê ons baie, baie dankie.

“Daar is so baie mense wat ons nie eens persoonlik ken nie, wat uit die goedheid van hul harte besluit het om ons te ondersteun. Ons is werklik nederig en dankbaar vir elke enkele persoon wat ’n saadjie gesaai het.”

Lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder sê ’n saak van poging tot moord, met ’n bykomende roofklag, word ondersoek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.