On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Negejarige Kimberley-gimnas droom van Olimpiese Spele

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:21 Wed, 30 Sep 2026

Negejarige Kimberley-gimnas droom van Olimpiese Spele | News Article
Dominique Maritz. Foto verskaf

’n Jong gimnas van Kimberley droom groot en hoop om eendag die Olimpiese Spele te haal, terwyl sy nou reeds hard werk om dié droom te verwesenlik.

Dominique Maritz (9) het Vrydag (25/9) in Centurion aan die Suid-Afrikaanse Gimnastiekkampioenskap deelgeneem nadat sy haar plek in die span van die Noord-Kaap verseker het. Sy het die vereiste 31 punte op die provinsiale kampioenskap oorskry en 34,65 behaal, sê Anushka, haar ma.

Die leerder van Laerskool Newton is al sedert die ouderdom van vier en ’n half jaar by gimnastiek betrokke en oefen by Diamond Gymnastics. 

Haar liefde vir die sport het begin nadat haar ma haar geleer het om ’n wawiel en kopstaan te doen, waarna sy self die bewegings wat sy op televisie gesien het, wou probeer.

Dominique Maritz (9) is al sedert die ouderdom van vier en ’n half jaar by gimnastiek betrokke. Foto verskaf

“Ek het baie lief vir gimnastiek geword. Ek het eers baie gesukkel, maar uiteindelik die bewegings reggekry. Dit was die lekkerste gevoel,” vertel Dominique.

Sy geniet dit veral om nuwe dinge met haar lyf te kan regkry, en ’n agteroorsalto is as haar gunstelingbeweging. Een van haar grootste uitdagings was onlangs haar spronge, waarmee sy aanvanklik gesukkel het.

Nadat sy saam met haar afrigters hard daaraan gewerk het, het sy haar beste punt vir spronge by die Suid-Afrikaanse kampioenskap behaal.

Dominique het ook hard gewerk om ’n agteroorsalto-afkom van die brug af reg te kry en sê sy wil dit nou by elke oefening doen, al is dit nog nie deel van haar roetine nie. 


Sy oefen normaalweg twee keer per week vir twee uur per sessie, met ekstra oefeninge voor kompetisies. Wanneer sy nie by die klub is nie, oefen sy in haar eie tyd en sy verander selfs gewone bewegings in gimnastiekbewegings.

Haar eerste plek by die provinsiale kampioenskap is een van haar gunstelingprestasies, maar deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap was vir haar ’n besondere ervaring.

“Die lekkerste was toe ek eerste plek kry by die provinsiale byeenkoms, maar die beste was om te sien hoe groot en mooi die SA’s was,” sê sy. 

Dominique Maritz se liefde vir gimnastiek het begin nadat haar ma haar geleer het om ’n wawiel en kopstaan te doen. Foto verskaf

Dominique sien op na Simone Biles en Sophia Campana en hoop om eendag self aan die Olimpiese Spele deel te neem. Sy wil ook later haar eie gimnastiekklub begin.

Anushka sê Dominique se vasberadenheid is een van die dinge wat haar die meeste opval. “Sy is ’n klein stukkie dinamiet wat nie terugstaan vir enige uitdaging nie. As sy iets wil bereik, is daar niks wat haar gaan keer om 100 of meer keer te probeer totdat sy dit bereik nie.” 

Dominique se raad aan ander kinders wat met gimnastiek wil begin, is om dit te geniet en nie moed op te gee nie, selfs wanneer ’n beweging moeilik is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.