On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Sukkel jy met onderhoud? Gratis hulp in Bloemfontein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:44 Thu, 01 Oct 2026

Sukkel jy met onderhoud? Gratis hulp in Bloemfontein | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Vir baie enkelouers is die stryd om onderhoud te kry veel meer as net ’n hofsaak. Dit kan beteken daar is aan die einde van die maand nie genoeg geld vir kos, skooluitgawes of ander basiese behoeftes nie.

Die Social Justice Foundation wil dié las help verlig deur aan ouers en voogde praktiese ondersteuning te verleen met onderhoudsake. Die organisasie bied Saterdag (3/10) ’n gratis onderhoudondersteuningsgeleentheid in Bloemfontein aan.

Ouers wat sukkel om dit te ontvang of agterstallige onderhoud in te vorder, kan van 09:00 tot14:00 by Lettie Fouché-skool in Bloemendalweg, Rayton, hulp kry om die proses verder te voer. Die geleentheid is deel van ’n landwye projek van die Social Justice Foundation, wat toegespits is  daarop om ouers en voogde beter toegang tot inligting en ondersteuning oor onderhoud te gee, sê Marietjie Goodrich van die stigting.

“Litigasiekosteis duur, hofprosesse neem dikwels lank en baie mense weet nie waar om hulp te kry wanneer ’n onderhoudbevel nie nagekom word nie.” Die projek volg op ’n ooreenkoms tussen die stigting, die justisiedepartement en kredietburo’s om onderhoudwanbetalers in kredietburo’s se lyste te laat opneem.

Die stigting het reeds in Gauteng begin om mediators en regstudente op te lei, en sowat 130 is reeds bemagtig om die stelsel te gebruik. Goodrich sê die behoefte aan ondersteuning is groot, veral onder mense wat nie duur regsadvies of hofgedinge kan bekostig nie.

Laurie en Anneke Greyvenstein, die voorsitter en hoof uitvoerende beampte (HUB) van Social Justice, sê die meeste partye wat hulle nader, het oor die algemeen geldelike probleme, kan nie duur regsadvies of hofsake bekostig nie en is swak ingelig. “Mense wat hulp soek, is dikwels emosioneel en liggaamlik uitgeput ná ’n lang stryd om onderhoud.”

In prosesse soos dié is een-tot-een-ondersteuning belangrik, omdat elke onderhoudsaak se omstandighede verskil en daar nie ’n enkele oplossing bestaan nie. Mense wat Saterdag daar is, kan onder meer hulp kry met die verstaan van hul onderhoudsbevele, die berekening van agterstallige bedrae, die invul van vorms en om te bepaal watter stappe hulle volgende kan doen.

Anneke sê die publiek sal ook ingelig word oor die prosesse wat beskikbaar is en hoe om die nodige stelsels en hulpmiddels te gebruik. “Ons gee hulle inligting, ons gee hulpmiddels – hoe om die stelsels te gebruik, watter vorms om in te vul, wat om te verwag, wat hul regte is en dies meer.”

Mense wat nog nie ’n onderhoudsbevel het nie, is ook welkom om die geleentheid by te woon en kan raad kry oor hoe om daarvoor aansoek te doen. Ouers met bestaande bevele waar onderhoud nie betaal word nie, kan ook hulp kry met die proses om die bevele op kredietburo’s se lyste te laat aanbring.

Dit kan beteken dat ’n onderhoudsverpligting in ag geneem word wanneer die persoon om krediet aansoek doen. Greyvenstein sê daar is ook verskeie wanopvattings oor onderhoud wat mense daarvan kan weerhou om die nodige stappe te doen.

Een daarvan is dat ’n ouer nie onderhoud hoef te betaal indien hy of sy nie die kind sien nie. Sy sê dit is nie die geval nie. Ouers wat met onderhoud sukkel, moet ook nie net aanvaar dat niks verder gedoen kan word nie. “Ons boodskap is: Raak betrokke. Kry jou onderhoudsbevel gelys by die kredietburo,” sê Greyvenstein.

Bywoning van die geleentheid is heeltemal gratis, hoewel voorafregistrasie verkies word om te bepaal hoeveel mense verwag kan word. Mense wat nog nie ’n onderhoudsbevel het nie, kan steeds die geleentheid bywoon. Die publiek word versoek om hul ID en onderhoudsbevel, indien hulle een het, saam te bring.

Registrasie kan gedoen word deur ’n boodskap aan 064 800 3975 te stuur, terwyl navrae ook aan Ricky Goodrich by 071 206 2567 gerig kan word. Die organiseerders sê daar is tans geen vaste beperking op die aantal mense wat hulp kan ontvang nie, hoewel die kapasiteit vir individuele ondersteuning beperk kan wees.

Die geleentheid vorm deel van die stigting se breër poging om mense nie net oor hul regte in te lig nie, maar hulle ook prakties te help om die volgende stap in hul onderhoudsake te doen. “Hulle moenie moed opgee nie. Daar is altyd hoop,” sê Goodrich.

OFM Nuus/Charnevan der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.