On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Twee Klerksdorp-vroue weer in hof oor R1,6 miljoen-bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:40 Thu, 01 Oct 2026

Twee Klerksdorp-vroue weer in hof oor R1,6 miljoen-bedrog | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Twee vroue van Noordwes wat na bewering hul werkgewer uit byna R2 miljoen bedrieg het, sal weer in November in die hof verskyn.

Jeanette Sylvia Cronjé (33) en Alicia van der Walt (36) het Donderdag (1/10) in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Hulle sal weer op 17 November op aanklagte van bedrog voorkom, sê ao. Nkosinathi Ndlovu, Valke-woordvoerder.

Hulle sal dan in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn. Daar word beweer hulle het die besonderhede van voormalige werknemers gebruik om hul werkgewer uit meer as R1,6 miljoen te bedrieg.

Hulle is Woensdag (30/9) deur lede van die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in die dorp in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings volg op ’n intensiewe ondersoek na beweerde bedrog wat na bewering tussen 2022 en 2024 gepleeg is.

Ndlovu sê Cronjé was die hoof van die betaalstaatafdeling by Klerksdorp Business Consultants and Brokers, terwyl Van der Walt die hoof van administrasie was. “Die twee het die besonderhede van werknemers wat die onderneming verlaat het, gebruik om betalings in hul eie persoonlike bankrekeninge te laat doen.”

Die onderneming het na bewering as gevolg hiervan ’n finansiële verlies van meer as R1,6 miljoen gely. Die saak is by die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad aangemeld, waarna ’n ondersoek begin is.

Cronjé en Van der Walt is ná die ondersoek in hegtenis geneem en van bedrog aangekla. Hulle is tydens hul hofverskyning borgtog van R5 000 elk toegestaan.

Jessica Kuhn. Foto verskaf

In ’n ander bedrogsaak bly ’n Noord-Kaapse vrou agter tralies tot Dinsdag (6/10) nadat sy glo miljoene rand by ’n skool verduister het. Jessica Kuhn (43), ’n voormalige finansiële administrateur van die Hoërskool Kathu, staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente.

Haar borgtogaansoek is op 7 Julie teengestaan nadat die Valke nuwe feite aan die hof voorgelê het. Die hof het daarna borgtog geweier. “Dit is nog nie duidelik of sy weer om borgtog sal aansoek doen nie,” sê Mnisi.

Die saak hou verband met die beweerde verduistering van R4,6 miljoen van die skool se geld. ’n Oudit wat in Oktober gedoen is, het glo finansiële onreëlmatighede aan die lig gebring. Kuhn word daarvan beskuldig dat sy private bankrekeninge geskep het waarheen skoolgeld en skenkings oorgeplaas is. Die geld was geoormerk vir die salarisse van onderwysers wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is.

Kuhn het na bewering fiktiewe fakture geskep wat gelyk het asof dit van wettige skoolverskaffers kom, sê Mnisi. Betalings is daarna glo na haar private rekening gemaak en tot haar voordeel aangewend.

“Sy het ook oortydbetalings aan haarself toegestaan ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied.”

Sy is op 2 Julie by haar huis op Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem. Die Valke en die NVG het intussen ’n suksesvolle aansoek ingedien vir die bewaring van bates hangende die ondersoek, insluitend voertuie en ’n woonwa.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.