On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

VF Plus wil ná verkiesing groter rol in koalisies speel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:50 Fri, 02 Oct 2026

VF Plus wil ná verkiesing groter rol in koalisies speel    | News Article
Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier. Foto Charne van der Merwe

Die VF Plus wil ’n groter rol in koalisieregerings speel en glo koalisies gaan ’n al belangriker rol in plaaslike regering speel.

Die party sê geen enkele politieke party sal noodwendig alleen kan regeer nie en hy is bereid om deel van koalisies te wees waar dit in sy kiesers se belang is. “Koalisies kan egter ook tot onstabiliteit en stadiger besluitneming lei wat dienslewering kan benadeel,” het dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, Vrydag (2/10) gesê in Bloemfontein op ’n ontbyt vir kiesers.

“Koalisies is die toekoms en waar geen party alleen kan regeer nie, sal die Vryheidsfront Plus aan koalisies deelneem as dit in ons kiesers se belang is.”

Hy sê koalisieregerings kan terselfdertyd kollektiewe besluitneming bevorder, mag misbruik beperk en ruimte skep vir verskillende groepe om deel te wees van besluitneming. “Die VF Plus wil met partye saamwerk wat sy waardes en beginsels deel, eerder as om bloot poste en politieke mag na te jaag.”

Die VF Plus sê geen enkele politieke party sal noodwendig alleen kan regeer nie. Foto Charne van der Merwe

Die party se Dis Ons Tyd-manifes, wat in September bekendgestel is, fokus op die herstel van plaaslike regering en bevat ’n tien-punt-plan om munisipaliteite reg te ruk.

Die plan is daarop gerig dat gemeenskappe groter seggenskap oor besluite kry, belastinggeld doeltreffend bestee word en billike belasting en tariewe gehef word. Dit fokus verder op die herstel en bou van infrastruktuur, finansiële verantwoordbaarheid, ’n gesonde en veilige omgewing, werkskepping en ekonomiese ontwikkeling, asook die beginsel amptenare moet vir inwoners werk. Die laaste drie fokusareas is ’n nuwe bedeling met goeie waardes, doeltreffende toesig en stabiele koalisieregerings.

Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid, sê die verkiesing bied ’n geleentheid om nie net verandering nie, maar ook verbetering in munisipaliteite te bring. “Ons is baie opgewonde oor die verkiesing op 4 November. Dit is ’n verkiesing waar ons verandering kan bring, maar nie net verandering nie – definitief verbetering.”

Volgens Cloete het die situasie in munisipaliteite in die Vrystaat en spesifiek die Mangaung-metro, in ’n ernstige diensleweringskrisis ontaard. “Die VF Plus het ’n tien-punt-plan, ’n baie maklik implementeerbare, praktiese plan wat ’n mens oor ’n baie vinnige tydperk kan implementeer om verandering te bring – en, soos ek sê, nie net verandering nie, verbetering.”

Mulder sê die party wil hê munisipaliteite moet inwoners eerste stel en dat kundigheid en meriete eerder as politieke oorwegings ’n groter rol in aanstellings moet speel. Hy het ook kritiek uitgespreek teen wat hy as swak bestuur, korrupsie en gebrekkige dienslewering beskryf. Volgens hom moet die regering ’n omgewing skep waarin die private sektor kan groei en werk kan skep.

Armand Cloete. Foto Charne van der Merwe

Mulder sê kleiner partye moenie afgewys word bloot omdat hulle minder steun as groter partye het nie. Hy het kiesers aangemoedig om voor die verkiesing na ’n politieke party se waardes, beginsels en beleid te kyk eerder as om slegs op grond van ’n party se grootte te besluit.

Die VF Plus is vanjaar deur die OVK in die eerste posisie op die party-stembrief geplaas ná ’n ewekansige trekking. Mulder sê die party se doelwit is om sterker verteenwoordiging in plaaslike rade te verkry en sodoende ’n groter rol in besluitneming te speel.

Hy sê die Dis Ons Tyd-manifes verwys na ’n politieke verskuiwing wat reeds besig is om plaas te vind. “Ek sê vir u vanoggend dit is inderdaad ons tyd.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.