Central SA
Sywurmtyd: Venster vir kinders op lewensiklusse─── SUSAN MARÉ 14:31 Mon, 05 Oct 2026
Dis sywurmtyd in Suid-Afrika en in baie huise staan daar van September tot November bokse vol klein of groot kolonies wurms.
Hierdie moerbeiblaarvrate vreet dag en nag, en ouers en kinders moet rond en bont soek na moerbeibome om genoeg blare vir die gulsigaards te kry. Op Sasolburg word sywurms op sosiale media teen R2 elk aangebied, terwyl pryse elders selfs laer is.
Filanda Jansen van Rensburg skryf in haar advertensie sywurms is ideaal vir kinders, skoolprojekte of wetenskap by die huis. “Ervaar self hoe wurms unieke vorms soos sterre en hartjies kan toespin.” Kopers moet die wurms self op Sasolburg gaan haal.
In nog ’n advertensie, op Bethlehem, bied ’n ma die wurms teen slegs R1 elk aan. Dit klink of Stella Koen se gesin se kolonie van sowat 600 sywurms hulle wil onderkry.

Baie Suid-Afrikaners het as kinders met sywurms in skoenbokse ‘geboer’. Foto: Facebook/Beautiful South Africa
Dié stokperdjie het weer deel van haar huis geword nadat sy kleintyd sywurms gehad het. Sy en Eugene, haar man, wou die lewensiklus vir Carter, hul seuntjie, wys. “Nie ver van ons huis nie is ’n ou begraafplaas met die grootste moerbeiboom wat ek nog gesien het. Ons wurms ly beslis nie honger nie.”
Koen vertel die “meisiewurms” is wit, terwyl die “seuntjiewurms” aan klein sebratjies herinner. Die patrone wat hulle spin, beland dikwels as aandenkings tussen die bladsye van Bybels of ander boeke. Dit is volgens haar die beste manier om dit te bewaar.
Anders as die stokperdjie vir kinders is kommersiële sywurmboerdery ’n hoogs gespesialiseerde en seldsame nismark in Suid-Afrika. Die bedryf is arbeidsintensief omdat sywurms uitsluitlik op vars moerbeiblare voed en voortdurend versorg moet word namate hulle groei en deur hul verskillende ontwikkelingsfases beweeg.

Die ‘seuntjiewurms’ herinner aan klein sebratjies. Foto: ecsif.blogspot.com
Sywurms speel volgens Wikipedia reeds duisende jare ’n groot rol in die tekstielbedryf, veral in China, waar syproduksie ontstaan het. Die wetenskaplike naam, Bombyx mori, beteken “sywurm van die moerbeiboom”. Die insekte is die larwes van ’n mot en spin met hul speekselkliere ’n kokon van sy.
Die ruspe het ’n gladde vel, ’n klein horinkie op die agterlyf en nege asemhalingsopeninge aan die sye. Sodra die ruspe volgroei is, spin hy hom in ’n kokon toe, waar hy eers in ’n papie en daarna in ’n mot verander.
Wanneer die wurm gereed is om te spin, skei dit ’n vloeibare proteïen, fibroïen, af deur spesiale kliere in die kop. Die vloeistof verhard sodra dit met lug in aanraking kom en vorm ’n sydraad. Nog ’n gomagtige proteïen, serisien, bind die twee drade aanmekaar om die kokon te vorm.
Sywurms is gulsige vreters. Hulle groei vinnig en vervelling is naby wanneer die koppies van die larwes donkerder verkleur. Die wurms vervel gemiddeld vier keer voordat hulle papies word. Eindelik spin hulle hulself toe in ’n geel kokon of klein huisie.
Beetblare kan rooi kokonne tot gevolg hê, terwyl slaaiblare wit kokonne oplewer. Daar rus die wurms van die harde werk van spin totdat hulle in motte verander. Die kokon self bestaan uit ’n enkele sydraad wat tussen 300 m en 900 m lank kan wees.
Die vesels is blink en besonder fyn. Tussen 4 400 en 6 600 kokonne is nodig om 1 kg sy te verkry. Na berekening word minstens 32 000 t onverwerkte sy wêreldwyd per jaar geproduseer, waarvoor sowat 4,5 miljoen t moerbeiblare verorber word.
Sywurmproduksie van belang
Die spesie is van groot ekonomiese belang omdat syprodukte geheel en al daarvan afhanklik is. Die wurms het oorspronklik net in die noordelike dele van China en Persië, die huidige Iran, voorgekom. Vandag word sy in verskeie lande op groot skaal geproduseer.
Van die belangrikste produsente is Japan, China, Indië, Rusland, Italië, Brasilië en Frankryk. Japan vervaardig sowat twee derdes van die wêreld se sy. Die Ooste is besonder geskik vir syproduksie omdat sywurms daar ses of meer geslagte per jaar kan oplewer, teenoor gewoonlik een siklus in Europa.
In Suid-Afrika is sywurmboerdery ’n hoogs gespesialiseerde nismark. Volgens Nisboere Suid-Afrika is moerbeibome reeds in die 17de eeu in die land aangeplant en is sywurms in 1726 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie ingevoer om die plaaslike bedryf te ontwikkel.

Dié rok van sy en linne was verlede jaar in Doha, Katar, te koop vir meer as R60 000. Foto: Daphné Grundling
Hoewel baie Suid-Afrikaners as kinders met sywurms in skoenbokse “geboer” het, is daar vandag min grootskaalse kommersiële produsente. Africa Silks naby Graskop in Mpumalanga word beskryf as Afrika se belangrikste kommersiële sywurmplaas, met rofweg ses hektaar moerbeibome onder aanplanting.
Klerasie van sy is luuks en duur. Tipiese pryse vir bloese, rompe en rokke wissel van R1 500 tot R3 500 of selfs hoër. The Nightingale of Kuala Lumpur deur Faizali Abdullha word beskryf as die duurste kledingstuk ter wêreld wat gedeeltelik van sy gemaak is, met ’n waarde van sowat $30 miljoen.
Die wonder van sywurms as stokperdjie in ’n boks vol moerbeiblare bied kinders nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd ’n blik op een van die natuur se merkwaardigste lewensiklusse. Van ’n gulsige larwe tot ’n fyn kokon en uiteindelik ’n mot speel die hele proses voor hulle af.
In die Bybel word sy met rykdom, koninklike status en skoonheid verbind, maar ook met die verganklikheid van aardse besittings. In Esegiël word die beeld gebruik: “Ek het jou met fyn linne omhul en jou met sy bedek …” as deel van ’n beskrywing van weelde en versiering.
Geweefde sy word ook in literatuur, filosofie en sielkunde as metafoor gebruik om kompleksiteit, krag, interafhanklikheid en kosbaarheid uit te druk. Die eenvoudige sywurm, wat sy dae deurbring met moerbeiblare vreet, word só ’n treffende beeld van transformasie en die skepping van iets kosbaars uit die alledaagse.
Vir kinders wat vandag ’n paar wurms teen R1 of R2 elk koop, begin dié groot verhaal egter baie eenvoudiger: met ’n skoenboks, ’n hand vol vars moerbeiblare en die geduld om te kyk hoe ’n klein wurm homself uiteindelik in sy toesluit.
OFM Nuus/Susan Maré cvs dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

