On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Wanneer ’n kind se seer onsigbaar word: Die gevaar van boeliegedrag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:36 Mon, 05 Oct 2026

Wanneer ’n kind se seer onsigbaar word: Die gevaar van boeliegedrag | News Article
Smit Bindeman. Foto verskaf

’n Kind wat boelie, dra soms self ’n seer wat niemand raaksien nie.

Maar vir die kind aan die ontvangkant kan die gevolge verwoestend wees. Daarom waarsku ’n Bloemfonteinse sielkundige en berader dat ouers nie veranderinge in hul kinders se gedrag, emosies of woorde moet ignoreer nie.

Janke-lee Engelbrecht (13) herstel in ’n Johannesburgse hospitaal nadat sy glo weens beweerde boeliegedrag by die skool haar lewe probeer neem het.  

“Boeliegedrag is ’n komplekse kwessie met dikwels dieper oorsake,” sê Smit Bindeman van Mind Matters wat al 15 jaar praktiseer. “Die eenvoudigste antwoord vir ’n komplekse kwessie is dat kinders wat seer het, ander kinders seermaak.”

Hy verduidelik ’n kind wat ’n ander kind seermaak, soms glo dat dit hulle beter oor hulself sal laat voel. Die uiteinde is egter dat albei kinders emosioneel kan swaarkry.

“Die hartseer deel is dat as gevolg van spieëlneurone, wat ons help om empatie te voel vir ander, dit veroorsaak dat kinders wat boelie eintlik net slegter voel oor hulleself ná hulle geboelie het. So eintlik los dit beide kinders net op ’n slegte plek.”

Wanneer moet ouers bekommerd wees?

Hy sê een van die eerste tekens waarna ouers moet oplet, is wanneer ’n kind begin onttrek. “As kinders begin om hulself te isoleer. As ’n kind skielik nie tyd met hul vriende en die gesin wil deurbring nie.”

’n Kind wat skielik belangstelling verloor in dinge waarvan hy of sy voorheen gehou het, kan dit ook ’n waarskuwingsteken wees. “Hulle kan selfs belangstelling tot so groot mate verloor dat hulle geen aktiwiteit wil aanpak nie.”

Skuldgevoelens

Veranderinge in ’n kind se gewig of eetgewoontes behoort volgens hom ook nie geïgnoreer te word nie. “ ’n Groot verskil in gewigsverlies of eetgewoontes is ook ’n gevaarteken.” Nog ’n belangrike teken is wanneer ’n kind se siening van hom- of haarself verander.

Kinders wat geboelie word, kan gevoelens van waardeloosheid of ongepaste skuldgevoelens ervaar. Hulle kan selfs begin voel dat hulle die behandeling verdien of dat hulle self die rede is waarom iets gebeur.

Krisis  

Hoewel oop en eerlike kommunikasie tussen ouers en kinders ideaal is, sê Bindeman dit is nie altyd maklik nie. “Dit is ’n uitdaging en kinders verskil ook. Ons lewe is baie gejaag en besig wat goeie kommunikasie soms kan bemoeilik.”

Hy glo daarom dat ouers eerder vroeër as later professionele hulp moet oorweeg. “Dit is ideaal om kinders eerder vroeër by iemand soos ’n terapeut uit te kry sodat daar vaardighede aangeleer kan word wat hulle sal help.”

Bindeman beklemtoon elke situasie is uniek. “Met alles wat gesê is, is elke geval uniek en moet professionele hulp geraadpleeg word.” Navorsing wys op ’n sterk verband tussen boeliegedrag en selfdoodrisiko onder kinders en adolessente. Volgens ’n 2014-meta-analise deur Van Geel, Vedder en Tanilon, gepubliseer in JAMA Pediatrics, het kinders en adolessente wat geboelie word ’n 2,55 keer hoër kans van ’n selfdoodpoging as dié wat nie geboelie word nie.

Boeliegedrag

Die navorsers beklemtoon egter dat dit ’n verband is en nie bewys dat boeliegedrag alleen ’n selfdoodpoging veroorsaak nie. ’n Suid-Afrikaanse navorsing deur Khuzwayo, Taylor en Connolly, wat in 2018 in die South African Medical Journal gepubliseer is, het 1 759 gr. 10-leerders in KwaZulu-Natal ondersoek.

Daar is bevind 14,8% van die leerders in die voorafgaande jaar ’n selfdoodpoging aangemeld het. Onder seuns was Facebook- of WhatsApp-boeliegedrag beduidend geassosieer met selfdoodpogings wat mediese behandeling vereis het.

Meer onlangs het Zane Lee Schreuder van die Universiteit van Johannesburg in ’n navorsing van 2025 onder 155 leerders tussen 13 en 17 jaar in die groter Johannesburg-gebied ook ’n beduidende verband tussen boelie-viktimisasie en selfdoodgedagtes en -gedrag gevind.

“Moenie wag totdat ’n kind se pyn ’n krisis word voordat jy hulp soek nie. Luister. Let op veranderinge. Vra vrae. En wanneer iets nie reg voel nie, kry professionele hulp. “Want ’n kind hoef nie altyd die woorde te hê om te sê ‘Ek sukkel’ nie. Soms wys hul gedrag dit eerste,” sê Bindeman.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.