On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley vier 150 jaar van Plaatje se nalatenskap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Tue, 06 Oct 2026

Kimberley vier 150 jaar van Plaatje se nalatenskap | News Article
Kimberley vier 150 jaar van Solomon Plaatje se nalatenskap. Foto: SOAS Archives, University of London

Solomon Tshekisho (Sol) Plaatje, wat ’n belangrike rol in Kimberley se geskiedenis gespeel het, word vanjaar 150 jaar ná sy geboorte met ’n week lange program by Sol Plaatje-Universiteit (SPU) vereer.

Plaatje was ’n intellektueel, joernalis, taalkundige, politikus, vertaler en skrywer, asook ’n stigterslid en die eerste algemene sekretaris van die South African Native National Congress, wat later die ANC geword het. Sy invloed strek egter verder as die geskiedenisboeke.

Sy nalatenskap en bydrae tot taal, onderwys, geregtigheid, waardigheid en identiteit word tydens die Sol Plaatje-gedenkweek van Maandag (5/10) tot Saterdag gedenk.

Die viering bestaan uit ’n reeks lesings, paneelbesprekings, literêre geleenthede, openbare gesprekke en ander herdenkingsaktiwiteite. Die week se program ondersoek onder meer Plaatje se bydrae tot taal, onderwys, joernalistiek, letterkunde, politieke denke en die stryd om geregtigheid en menswaardigheid.


Die week het begin met die amptelike opening by die SPU-biblioteekouditorium waar Buti Manamela, minister van hoër onderwys en opleiding, die openingsrede gelewer het. ’n Gedenkseël is by die Sol Plaatje-museum onthul, waarna ’n paneelbespreking oor Plaatje en Setswana plaasgevind het.

Die gesprek het gewentel om Plaatje se Setswana-joernalistiek, sy versameling en vertaling van Setswana-spreuke, asook die rol van taal in die bewaring van kennis, identiteit en historiese herinneringe.

Die klem skuif Dinsdag (6/10) na letterkunde op ’n paneelbespreking oor sy baanbrekerswerk Native Life in South Africa, wat in 1916 gepubliseer is en geskryf is in protes teen die Naturellegrondwet van 1913, en sy roman Mhudi: An Epic of South African Native Life a Hundred Years Ago, wat die eerste keer in 1930 gepubliseer is. 

Die roman word algemeen beskou as die eerste vollengte-roman in Engels wat deur 'n swart Suid-Afrikaanse skrywer geskryf is.

Dekolonialisme en plantêre bewussyn

Prof. Shole J. Shole en dr. Eileen Pooe neem aan die bespreking deel, waarna dr. Sebeka Plaatjie ’n openbare lesing lewer oor die plasing van Plaatje binne die era van dekolonialisme en planetêre bewussyn.

Die herdenking van 110 jaar sedert die publikasie van die protesboek vind Woensdag plaas. Historikus en Plaatje-biograaf prof. Brian Willan en literêre navorser en redakteur dr. Janet Remmington is deel van die paneel. 

Willan lewer ’n openbare lesing oor Plaatje en onderwys. Die dag sluit af met ’n sokkerprogram op die universiteit se Suidkampus, met afrigter Pitso Mosimane as spreker.

Geskiedenis en geregtigheid is Donderdag die kern van die bekendstelling van Willan en dr. Brown Maaba se biografie oor Isaiah (Bud) M’Belle (1870-1947). Hy was ’n belangrike Suid-Afrikaanse opvoeder, staatsamptenaar, tolk, sportorganiseerder en politieke aktivis wat ’n beduidende rol in die openbare lewe van swart Suid-Afrikaners gedurende die laat 19de en vroeë twintigste eeu gespeel het.

Dit word gevolg deur die regter Yvonne Mokgoro- geregtelike rondetafelgesprek waaraan verskeie regsgeleerdes bywoon. Plaatje se 150ste herdenking word die aand tydens ’n galadinee in die Groot Saal van SPU gevier. Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul is die hoofspreker.

Die bekendstelling van letterkundige tydskrif die !Xao Journal for New Writing Vrydag gaan gepaard met ’n bespreking oor Plaatje se intellektuele en literêre nalatenskap, asook sy historiese en dekoloniale relevansie. Die jaarlikse Sol Plaatje-gedenklesing en rondetafelbespreking volg die middag.


Die week word Saterdag afgesluit met die Kanselier se Gholfdag by die Kimberley-gholfklub en SPU se Alumni Homecoming. Die gholfdag is ten bate van die kanselier se beursfonds, wat die universiteit se talentpyplyn-program vir gr. 10- tot gr. 12-leerders van plattelandse en minderbevoorregte skole in die Noord-Kaap ondersteun.

Plaatje het op vierjarige ouderdom saam met sy gesin na Pniel naby Kimberley verhuis, en het later in 1894 na Kimberley getrek waar hy as ’n telegraafboodskapper by die poskantoor gewerk het.

Hy het daarna die hoogste klerklike eksamen in die Kaapkolonie met besonder hoë punte in Nederlands en tikwerk geslaag en later as ’n hoftolk tydens die beleg van Mafikeng gewerk. Hy was getroud met Elizabeth Lilith M’belle, by wie hy vyf kinders gehad het.

Plaatje is op 19 Junie 1932 in Pimville, Johannesburg, aan longontsteking oorlede en in Kimberley begrawe. Meer as duisend mense het sy begrafnis bygewoon.

Hoewel dekades verloop het voordat sy werk die erkenning gekry het wat dit verdien, het belangstelling in sy joernalistieke en literêre nalatenskap sedert die 1970’s sterk toegeneem.

Sy voormalige woning in Angelstraat, waar hy sy laaste jare deurgebring het, is in 1992 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar en is vandag die Sol Plaatje-museum en -biblioteek, terwyl sy graf in die West End-begraafplaas ook later erfenisstatus gekry het.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn  066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.