On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-vrou sterf ná tweede, wrede aanval op plaas

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:55 Tue, 06 Oct 2026

Noordwes-vrou sterf ná tweede, wrede aanval op plaas | News Article
Hannetjie van Zyl is dood ná ’n plaasaanval naby Ottosdal. Foto verskaf

Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat ’n Noordwes vrou tydens ’n plaasaanval aangeval is en later aan haar beserings beswyk het.

Hannetjie van Zyl (55) is Maandag (5/10) buite Ottosdal by die plaashek op die Doornpan-pad aangeval terwyl sy besig was om die hek oop te maak. Sy is met ’n onbekende voorwerp aangerand, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Haar man, Sarel, het haar na die hospitaal in Klerksdorp geneem, waar sy aan haar beserings beswyk het. Dit is nie die eerste keer dat Van Zyl en haar man op dié plaas geteiken is nie.

Drie mans was in Julie 2020 in ’n plaasaanval op die egpaar betrokke. Die verdagtes is in hegtenis geneem, maar minder as twee weke later op waarskuwing vrygelaat.

Die jongste voorval lok wyd reaksie uit. Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, sê die gebeure onderstreep nogmaals die grusame werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika, ’n werklikheid wat in sekere mediakringe, deur meningsvormers en die regering ontken of as “gewone” misdaad afgemaak word.


“Ek versoek pres. Cyril Ramaphosa daarom om die werklikheid van plaasmoorde nou te erken en te veroordeel, om sy medelye met mev. Van Zyl se naasbestaandes te betuig en om ondubbelsinnig die lied ‘Kill the boer, kill the farmer’ te veroordeel en hom daarteen uit te spreek.

“Diegene wat opstaan vir bewusmaking oor plaasmoorde, word toenemend as onpatrioties of ‘ver-regs’ gebrandmerk wanneer hulle die internasionale gemeenskap hieroor inlig. Die VF Plus is van mening dat ontkenning meewerk tot die voortsetting van die geweld.”

Mulder sê wanneer die regering en Ramaphosa weier om die omvang van plaasaanvalle te erken en dit tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, faal hulle in hul primêre grondwetlike plig om alle inwoners van Suid-Afrika te beskerm.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

“Toe etlike vroue onlangs op die Oos-Rand vermoor is, het Ramaphosa dit dadelik veroordeel en geëis dat dit prioriteitsaandag geniet. Dit is presies hoe enige ernstige misdaadprobleem hanteer behoort te word.

“Waarom geld dieselfde dringendheid en amptelike veroordeling nie vir die landbougemeenskap en die lewe van boere nie?”

Hy sê plaasaanvalle moet as ’n ernstige misdaadprobleem hanteer word en die staat behoort die veiligheid van plattelandse gemeenskappe te prioritiseer.

Luidens syfers van AfriForum is daar verlede jaar altesaam 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde aangeteken. Mulder sê die VF Plus sal aanhou om die aandag te vestig op wat hy beskryf as geweld teen plattelandse gemeenskappe.

Intussen sê Niels Nilsson, ’n onafhanklike navorser oor plattelandse veiligheid wat aan die Landelike Veiligheid-statistiekgroep SA verbonde is, hul rekords toon dat daar vanjaar reeds 22 plaasaanvalle in Noordwes was. Die landwyd rekords tot dusver toon 25 plaasmoorde.

Morake sê die polisie het kort ná die voorval ’n klag van ’n moontlike plaasaanval ontvang en beamptes het hulle na die plaas gehaas. “Die ondersoek duur voort om die presiese omstandighede van die aanval vas te stel en die verdagte of verdagtes te identifiseer.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.