Central SA
Sielkundige se ontbrekende notas vertraag moordverhoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:28 Tue, 06 Oct 2026
Die verhoor van die man wat daarvan aangekla word dat hy twee sakeman-broers van Noordwes vermoor het, is verder vertraag nadat ’n sielkundige wat in die saak getuig het, nie haar aantekeninge by haar gehad het nie.
Robert Joubert (75) het Dinsdag (6/10) in die streekhof in Potchefstroom verskyn. Die staatsaanklaer het die sielkundige, Claire Hearne, ondervra, maar sy kon talle vrae nie beantwoord sonder haar notas nie, sê Johan le Grange, die Fourie-familie se prokureur.
“Sy was ongelukkig onvoorbereid en het nie haar notas by haar gehad waarna sy tydens haar getuienis verwys het nie. Die staatsaanklaer het later aan die hof gesê dit is moeilik om haar te kruisondervra omdat sy herhaaldelik sê dat sy nie die antwoorde kon onthou nie, terwyl die nodige inligting volgens haar in die notas vervat is.”
Die saak is tot 18 November uitgestel. Hearne is gewaarsku om haar notas vir die volgende hofverskyning saam te bring. Joubert staan tereg op twee aanklagte van moord en een van poging tot moord nadat hy die broers Johnathan en Deon Fourie op 10 November in hul hoenderonderneming se raadsaal glo geskiet het.

Deon en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto verskaf
Johnathan is op die toneel dood, terwyl Deon sowat ’n maand later aan sy beserings beswyk het. Die broers was direkteure van Chubby Chick in Potchefstroom.
’n Veiligheidswag het Joubert glo tydens die skietvoorval in albei arms geskiet. Hy is sedertdien in aanhouding en het glo ook behandeling ontvang vir ’n vergroeisel bo sy linkeroog by die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks.
Met sy verskyning op 1 Julie is die hof meegedeel dat kanker glo by hom gediagnoseer is. “Joubert het intussen ook ’n operasie gehad en word in die Klerksdorp-gevangenis aangehou. Hy kry blykbaar behandeling vir die oog by Tshepong-hospitaal,” het Le Grange vroeër gesê.

Johnathan en Nadine Fourie. Foto: Facebook
Die Fourie-familie het vrae geopper oor die verloop van die saak nadat ’n dringende aansoek toegestaan is dat Joubert vir spesialisbehandeling na ’n private hospitaal oorgeplaas kon word.
Die aansoek is deur Joubert se broer, Joshua, gebring. Die hof het gelas alle mediese onkoste moet privaat betaal word, asook die redelike onkoste vir sy vervoer, aanhouding, toesig en veiligheidsmaatreëls tydens sy hospitaalverblyf.

Robert Joubert. Foto: X
Die hof het beklemtoon dat die bevel nie op Joubert se vrylating uit aanhouding neerkom nie en dat dit ook nie die strafregtelike verrigtinge teen hom opskort of vertraag nie. Deon se seun, John Fourie, sê hy glo die aanval was doelgerig en vooraf beplan.
“Joubert se psigiatriese toestand hou ’n ernstige veiligheidsrisiko in indien hy nie onder maksimum-sekerheidsomstandighede aangehou word nie,” sê John. Hy sê hy vrees vir sy eie veiligheid en dié van die oorlewende familielede.
Die Grondwet gee gevangenes die reg op voldoende mediese sorg, maar nie noodwendig private behandeling nie. “Die hofbevel skep die indruk dat verskillende standaarde geld vir beskuldigdes wat private sorg kan bekostig en dié wat nie kan nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

