Central SA
Ngwathe-munisipaliteit onder druk, AfriForum eis ondersoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:54 Wed, 07 Oct 2026
Die Ngwathe-munisipaliteit is onder toenemende druk weens bewerings van finansiële en bestuursongerymdhede en ’n dringende ondersoek word nou geëis.
AfriForum eis ’n dringende, behoorlike en onafhanklike ondersoek ná toenemende aantal bewerings van finansiële en bestuursongerymdhede by Ngwathe-munisipaliteit.
Oud-burgemeester glo betrokke by ‘afpersingskema’
Bewerings dat die voormalige burgemeester, Victoria de Beer-Mthombeni, en haar man betrokke is by ’n multimiljoenrand-tenderafpersingskema wat deur die Valke ondersoek word, het die druk verder verhoog, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek
Verskeie ander kwessies, insluitende ’n hofuitspraak wat die munisipale bestuurder se aanstelling ongeldig verklaar het; die munisipaliteit se versuim om betyds ingevolge ’n hofbevel verslag te doen; en kommerwekkende bevindings deur die ouditeur-generaal (OG) wys op verdere ongerymdhede wat ondersoek moet word.
In die jongste storm wat spreekwoordelik om die kop van die voormalige burgemeester losgebars het, word onder meer beweer De Beer-Mthombeni het R3 miljoen van ’n kontrakteur geëis in ruil vir die behoud van ’n R58 miljoen-munisipale waterkontrak.
Pretorius sê dié bewerings moet nou dringend en sonder politieke of administratiewe inmenging ondersoek word. Die Vrystaatse hooggeregshof het Vrydag (2/10) die munisipale raad se aanstelling van Futhuli Patrick Mothamaha as munisipale bestuurder irrasioneel, ongeldig en nietig verklaar. Mothamaha sal na verwagting aansoek om verlof tot appèl doen.
‘Geld vir litigasie, maar nie vir dienslewering’
“Nou word nóg openbare geld aan litigasie bestee om ’n aanstelling te probeer verdedig wat die hof reeds tersyde gestel het, terwyl die munisipaliteit se inwoners daagliks met gebrekkige dienslewering saamleef. Openbare geld behoort tot voordeel van die gemeenskap aangewend te word,” sê Pretorius.
AfriForum is ook bekommerd omdat die eerste verslag wat ingevolge die hofbevel oor die ingryping by die munisipaliteit ingedien moes wees, steeds nie aan die hof voorgelê is nie. Hul regspan het die verantwoordelike partye reeds hieroor aangemaan.
‘Mislukkings van munisipaliteit moet ondersoek word’
“Die OG se aankondiging in November dat die munisipaliteit in die 2024/2025-boekjaar meer as R105 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes en meer as R143 miljoen se ongemagtigde uitgawes aangeteken het, moet ook in berekening gehou word wanneer die mislukkings van die munisipaliteit ondersoek word.”
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, hou vol dat wanneer hofuitsprake, die OG se aankondiging en nou ook ’n Valke-ondersoek ernstige vrae oor verskillende aspekte van plaaslike bestuur laat ontstaan, inwoners nie met nóg verskonings tevrede moet wees nie.

“Elke geloofwaardige bewering moet ondersoek word en waar bewyse van oortredings bestaan, moet die verantwoordelike persone aanspreeklik gehou word – ongeag hul posisie of politieke verbintenis.”
Pretorius sê inwoners het nou lank genoeg gely onder swak leierskap. “Dit is tyd vir geregtigheid en verantwoording.”
OFM Nuus cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

