Central SA
Lichtenburg se taaiste ysters maak gereed om staal te wys─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:36 Wed, 07 Oct 2026
Is jy taai, of net ’n lawaai?
Dié vraag gaan Vrydag (9/10) beantwoord word wanneer spanne hul krag, spoed en uithouvermoë meet tydens die eerste Taaiste Ysters vir Landbou-aflosuitdaging in die Hoërskool Lichtenburg se gimnasium en op sy sportveld inspan. Dit gebeur ter ondersteuning van Agri Securitas.
Die uitdaging is ’n voorsmakie van die groter Ysters vir Landbou-uitdaging, waaraan deelnemers op 22 November aan die 70.3 Ironman in Mosselbaai gaan deelneem om fondse vir die onderneming in te samel.
Die plaaslike uitdaging het ten doel om die gemeenskap, ondernemings en ander rolspelers by die inisiatief te betrek, bewustheid te skep en terselfdertyd geld vir landelike veiligheid in te samel, sê Jacques de Wet van NWK.
Hoewel die oorspronklike Ysters vir Landbou-uitdaging uit 1,9 km-swem, 90 km-fietsry en 21,1 km-hardloop bestaan, is die plaaslike uitdaging toegespits op drie dissiplines: roei, fietsry en hardloop.
Stilstaande oefenmasjiene sal gebruik word om soveel moontlik mense die geleentheid te gee om deel te neem, sonder dat deelnemers op dieselfde fiksheidsvlak as ’n Ironman-deelnemer hoef te wees.
De Wet sê enigiemand kan deelneem deur ’n span in te skryf of ’n donasie te maak. Spanne bestaan uit drie persone en kan in een van drie kategorieë deelneem: mans, dames of gemeng.
Grootste totale afstand
Die uitdaging begin om 09:00 en duur tot 13:00. Twee spanne van drie deelnemers elk sal op ’n slag deelneem met tien minute wat aan elke span toegestaan word om die verste moontlike afstand in hul onderskeie dissiplines af te lê.
Die span wat oor die tien minute die grootste totale afstand aflê, sal die wenner wees. NWK se finansies-departement sal die afstande van elke deelnemer en span noukeurig aanteken en is verantwoordelik vir die amptelike bepaling van die wenners.
’n Inskrywing kos R1 000 per span van drie, voor BTW. Die inskrywing gee ’n span die geleentheid om aan die uitdaging deel te neem, terwyl ’n span meer as een keer kan inskryf mits die inskrywingsfooi vir elke poging betaal word.

Die opbrengs is ten bate van Agri Securitas. “Die uitdaging is egter meer as net ’n sportbyeenkoms. Dit bied die plaaslike gemeenskap die geleentheid om saam te kom, pret te hê, spanbou te bevorder en terselfdertyd ’n bydrae tot landelike veiligheid te lewer,” sê De Wet.
Plaaslike paramedici en ’n ambulansdiens sal gedurende die uitdaging teenwoordig wees om deelnemers se veiligheid te verseker en mediese hulp te verleen indien nodig. Benewens die fisieke uitdaging is daar ook ’n sterk fokus op donasies.
Deelnemers en ondersteuners kan op die dag aan verskeie trekkings deelneem, terwyl persone wat R250 of meer skenk, ook in aanmerking kom vir ’n R5 000-geskenkbewys van LekkeSlaap. Die wenner word in Desember getrek.
“My boodskap aan enigiemand wat nog huiwer om ’n span saam te stel, is eenvoudig: Kom toets jou fiksheid, bou aan jou spangees, hê pret en maak terselfdertyd ’n bydrae tot ’n belangrike saak,” sê De Wet.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.
