Central SA
Twee vas ná moord op Noordwes-boervrou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:18 Thu, 08 Oct 2026
Twee verdagtes sal na verwagting Donderdag (8/10) in die hof verskyn ná die moord op ’n Noordwes-boervrou.
’n Derde verdagte is steeds soek ná die moord op Hannetjie van Zyl (55) Maandagaand (5/10) by die hek van die plaas waar sy en haar man, Sarel, woon. Die twee vermeende moordenaars, 32 en 33 jaar oud, sal in die Ottosdal landdroshof verskyn, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.
Van Zyl het dieselfde dag aan haar beserings beswyk nadat sy by die plaashek by Doornpan, sowat 17 km van Ottosdal, aangetref is. Sy het by Absa in Wolmaransstad gewerk en was op pad huis toe toe sy oorval en met ’n ysterpyp doodgeslaan is.
Haar man het haar na ’n hospitaal in Klerksdorp gehaas, maar dit was te laat. Haar handsak en selfoon is gesteel, het Carin Visser, Noordwes-DA-wetgewerlid, vroeër gesê.

Hannetjie van Zyl is dood ná ’n plaasaanval naby Ottosdal. Foto verskaf
“Die twee vermeende moordenaars is in hegtenis geneem nadat ’n getuie hulle geïdentifiseer het,” sê Morake. ’n Derde medepligtige is steeds op vrye voet.
Dit is nie die eerste keer dat Van Zyl en haar man op dié plaas geteiken is nie. Drie mans wat in Julie 2020 in verband met ’n plaasaanval op die egpaar in hegtenis geneem is, is minder as twee weke later op waarskuwing vrygelaat.
Lt.genl. Arthur Peter Adams, provinsiale polisiekommissaris, veroordeel die voorval en prys die ondersoekspan vir die vinnige inhegtenisneming van die verdagtes.
“Die veiligheid en sekuriteit van mense wat in landelike gebiede woon en werk, bly ’n prioriteit vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ons is diep besorg oor hierdie tragiese voorval en betuig ons medelye met die Van Zyl-familie.
“Ons sal aanhou om in noue samewerking met landelike gemeenskappe, boere en ander belanghebbendes te werk om misdaadvoorkomingsmaatreëls te versterk en te verseker dat diegene wat vir gewelddadige misdade verantwoordelik is, voor die gereg gebring word.
“Ons vra lede van landelike gemeenskappe moet waaksaam te bly, verdagte optrede by die polisie aanmeld en met wetstoepassingsagentskappe saamwerk om veiligheid in boerderygebiede te verbeter,” sê Adams.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.
