On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-boervrou: Vermeende moordenaars bly agter tralies

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:38 Thu, 08 Oct 2026

Noordwes-boervrou: Vermeende moordenaars bly agter tralies | News Article
Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Die twee beskuldigdes wat van die moord op ’n Noordwes-boervrou verdink word, sal ’n week agter tralies deurbring voordat hulle weer in die hof verskyn.

Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) het Donderdag (8/10) in die periodieke hof op Bloemhof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van die moord op Hannetjie van Zyl (55) en roof, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Van Zyl is Maandag by die plaashek aan die Doornpan-pad, sowat 17 km van Ottosdal, aangeval terwyl sy besig was om die hek oop te maak nadat sy van die werk af gekom het. Sy is met ’n ysterpyp op die kop geslaan en van haar handsak en selfoon beroof.


Haar man, Sarel, het haar na ’n hospitaal in Klerksdorp gehaas, maar sy het aan haar beserings beswyk. Dit is nie die eerste keer dat die egpaar aangeval word nie. Drie mans was in Julie 2020 by ’n plaasaanval op die egpaar betrokke. Die verdagtes is in hegtenis geneem, maar minder as twee weke later op waarskuwing vrygelaat.

“Die wrede moord op Hannetjie van Zyl toon weereens dat die krisis waarop Lex Libertas deur middel van die Witkruisprojek die aandag gevestig het, werklik is en dat die Suid-Afrikaanse regering as medepligtig beskou behoort te word totdat die nodige optrede plaasvind,” sê dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas.

“Die Witkruisprojek het daarin geslaag om internasionale bewustheid oor plaasaanvalle en die breër krisis waarmee minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika gekonfronteer word, dramaties te verhoog,”

Roets sê hul standpunt was egter van die begin af dat hierdie bewustheid gekanaliseer moet word na steun vir tasbare oplossings. Lex Libertas hou vol die vinnigste en minste konfronterende pad vorentoe is steeds dat die Suid-Afrikaanse regering self betekenisvolle optrede neem.

Die saak is tot Donderdag (15/10) uitgestel vir formele borgtogaansoeke.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.