Central SA
Senekal se gemeenskap gevra om te help bewaar ná orrelplundering─── SUSAN MARÉ 14:25 Thu, 08 Oct 2026
Die grootskaalse vandalisering van die historiese pyporrel in Senekal se NG Klipkerk het groot ontsteltenis veroorsaak nadat foto’s van die skade op sosiale media versprei is.
Die orrel, wat uit die vroeë twintigste eeu dateer, is vermoedelik gedurende Desember geplunder. Die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.
Die voorval is by die polisie aangemeld en word ondersoek. Niemand is blykbaar nog vir die beskadiging van die orrel aangekeer nie.
Die plundering het saamgeval met ’n vlaag inbrake en diefstalle wat Senekal einde verlede jaar getref het. Ander kerkgeboue is ook geteiken.
Die Klipkerk en sy terrein is ’n kosbare deel van Senekal se geskiedenis. Dit is een van die dorp se bekendste historiese bakens en lok gereeld toeriste.
Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) is die kerk beskadig toe Britse troepe onder meer kerkbanke verbrand en die oorspronklike orrel beskadig het.

Die NG Klipkerk op Senekal. Foto verskaf
Onder leiding van ds. H.B. Klopper, wat in 1906 as leraar bevestig is, het die gemeente daarna skouer aan die wiel gesit om ’n nuwe, waardige instrument vir gemeentesang aan te skaf. ’n Norman & Beard-pyporrel is uit Brittanje bestel.
Die vervaardiger was bekend vir hoëgehalte-instrumente en die ontwikkeling van pneumatiese orrelstelsels. Die invoer van so ’n instrument na die Vrystaatse platteland was destyds ’n aansienlike uitdaging vir die gemeenskap.

So lyk die orrelfront nou – gestroop van pype. Foto verskaf
Die kerk en terrein, insluitend die A.D. Keet-gebou, is in 1979 ingevolge die destydse Wet op Nasionale Monumente tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die terrein huisves ook versteende boomstompe, ’n burgermonument ter nagedagtenis aan gesneuweldes van die Boereoorlog, wawielspore uit 1938 wat die Groot Trek herdenk en gedenktekens wat met komm. F.P. Senekal en dr. A.D. Keet verband hou.
Heritage Trust neem bewaringstaak op
Weens ’n dalende lidmaattal en beperkte inkomste het die instandhouding van die historiese geboue ál moeiliker geword.
In September 2021 het die Heritage Trust ingevolge ’n ooreenkoms met die kerk die eienaarskap en verantwoordelikheid vir die bestuur en bewaring van die eiendom oorgeneem.
Die trustees is Ilanie Oberholzer, ’n prokureur van Senekal en voorsitter van die trust, asook Riaan Rhind en Lizia Rhind. Volgens Oberholzer het die behoefte om die Keet-huis en sandsteenkerk vir toekomstige geslagte te bewaar, die stigting van die trust aangevuur.

Die skewe pedaal bokant die pedaalnote getuig van erge vandalisering. Foto verskaf
Omdat daar nie meer gereelde kerkdienste en die gepaardgaande inkomste is nie, moes die Trust alternatiewe maniere vind om onderhoud te finansier.
Die terrein is onder meer vir troues, basaars, ’n biddag om reën en ander gemeenskapsgeleenthede beskikbaar gestel.
Twee vertrekke in die Keet-huis word ook aan ondernemings verhuur. Instandhoudingswerk het intussen weens min geld ’n uitdaging geword.

Die binneverwoesting van ’n baie sensitiewe, duursame instrument. Foto verskaf
Dit behels onder meer die behandeling van die kerkdak, herstelwerk ná stormskade aan die kerktoring, die opknapping van die kerkhorlosie se wyserplate, skuurwerk aan deure en historiese wawiele en tuinverbeterings.
Volgens Oberholzer is die R70 000 wat met ’n damesontbyt, geborg deur Willa Krause, ingesamel is, vir die behandeling van die dak aangewend.
Daarbenewens moet deurlopende uitgawes soos munisipale dienste, tuinonderhoud en herstelwerk gedra word.
Inbrake en herstelwerk stel verdere eise
Die onlangse diefstalle het die trust se taak aansienlik bemoeilik. Die kerk is van elektriese kabels gestroop en die pyporrel is ernstig beskadig.
Versekering het volgens Oberholzer gehelp om die kerk se kragtoevoer te herstel, maar die orrel se kragvoorsiening het nog aandag nodig.
Vier sake is volgens die trust reeds by die polisie aangemeld. Alarmsensors is by die kerkdeure aangebring, hoewel die alarm soms ook deur vlermuise geaktiveer word.

’n Monument op die kerkterrein. Die kerk en terrein is in 1979 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Foto verskaf
Oberholzer sê die polisie ondersoek die voorvalle en het ná ’n gemeenskapspetisie ook patrollies verskerp.
Die trust het met orrelkenners oor moontlike herstelwerk in verbinding getree. Jan Elsenaar van Protea Orrelbouers op Brandfort sal na verwagting binnekort na Senekal kom om die omvang van die skade en die moontlikheid van herstel te bepaal.
Elsenaar sê die verwydering van die pype en loodbuise uit die speeltafel dui op omvangryke plundering. Hy meen dit is onwaarskynlik dat die skade deur slegs ’n klein groep vandaliste in een nag aangerig is
’n Oproep om saam te staan
Oberholzer, wat self in die kerk getroud is en ’n sterk persoonlike band met die gebou het, sê die trust se werk word deur ’n opregte verbintenis tot erfenisbewaring gedryf.
“Ek betreur die negatiewe kommentaar en ongegronde bewerings wat soms op sosiale media versprei word, veral terwyl vrywilligers en ondersteuners hard werk om die terrein te onderhou.
“Ons doen wat ons met die beskikbare middele kan. Ek wil elke persoon bedank wat reeds bydra om hierdie besondere deel van Senekal se geskiedenis te beskerm,” sê sy.
Sy vra inwoners, ondernemings en oudinwoners moet prakties of finansieel betrokke raak. Selfs ’n gereelde bydrae van R100 per maand kan volgens haar help om noodsaaklike uitgawes, soos tuinonderhoud, skoonmaakmiddels en die verwydering van tuinvullis, te dek.
“Hierdie kerk is deel van ons gemeenskap se identiteit en geloofsgeskiedenis. Eerder as om van die kantlyn af kritiek te lewer, moet ons saamwerk om dit vir toekomstige geslagte te bewaar. Ek is bereid om hand en tand daarvoor te veg.”
Die trust hoop die gemeenskap sal rondom die Klipkerk verenig en ’n blywende rol in die bewaring van hierdie unieke Senekalse erfenis speel.
Belangstellendes wat wil help, kan met die Heritage Trust in verbinding tree by 058 481 2291.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
