On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Lei waar jy is – leierskapberaad in Bloem wil leiers inspireer

───   SUSAN MARÉ 14:54 Fri, 09 Oct 2026

Lei waar jy is – leierskapberaad in Bloem wil leiers inspireer | News Article
Die Global Leadership Summit word op 23 Oktober in die Bloemfontein Baptistekerk aangebied. Foto verskaf

Die Global Leadership Summit (GLS) bied weer sy jaarlikse leierskapberaad aan. Die beraad is op Vrydag 23 Oktober van 08:30 tot 16:30 in die Bloemfontein Baptistekerk. Die tema is: Lead Where You Are.

Cezanne Yzelle, kommunikasiebestuurder, sê die beraad is ’n ideale geleentheid vir sakeondernemings, skole-families, organisasies of enige leier wat streef na selfgroei, kennis en kreatiewe vooruitgang. GLS sê Bloemfontein het mense nodig wat ’n groot verskil in die samelewing kan maak. 

Die stad bestaan, soos alle ander dorpe en stede, uit gewone mense wat daagliks uitgedaag word om verantwoordelik te wees en probleme op te los. Die doel van die beraad is om deur gehalte video-aanbiedings deur sprekers wat internasionaal bekend is, mense tot leierskap te inspireer. 

Die beraad het ten doel om leiers te inspireer en in mense te belê. Praktiese leiding word voorsien en ’n vars perspektief gebied om uitdagings beter aan te pak.

Cezanne Yzelle. Foto: Facebook

Met hierdie beraad bied GLS ook aan plaaslike leiers in Bloemfontein en Sentraal-Suid-Afrika toegang tot idees, stories en praktiese leierskapbeginsels. Eindelik is dit tot voordeel vir die werkplekke, organisasies en gemeenskappe waar hulle betrokke is.

Waarom ’n leiersberaad bywoon as die sprekers nie in lewende lywe teenwoordig is nie? Yzelle sê dit is anders as om na ’n leier op ’n verhoog te sit en luister. In hierdie geval is die aanbieding veelsydig ontwerp om te sien hoe wêreldklassprekers verskillende perspektiewe belig. Die klem val ook op stories en praktiese leierskap.

Alle jong en volwasse leiers is welkom by die GLS-beraad in Bloemfontein. Foto: Facebook

“Die waarde is nie wie op die verhoog is nie, maar wat die leiers terugneem huis toe. Groepbesprekings volg ná elke spreker se aanbieding en beraadgangers ontvang ook ’n GLS-gidsboek.

“Mense hoef nie ver te reis om na internasionale sprekers oor leierskapsontwikkeling te luister nie. Dit gebeur sommer hier, in Bloemfontein. Dit is ’n spesiale geleentheid waar sake-eienaars, entrepreneurs, predikante, pastore, onderwysers, studente, NGO-leiers, kreatiewes en gemeenskapsleiers met mekaar kontak kan maak,” sê sy.

Sprekers sluit in Graig Groeschel (“The invisible language of leadership”), Ryan Leak (“Building a culture they never want to leave”), Arthur C. Brooks (“Finding purpose in an age of emptiness”), Jim Collins (“What to make of a life”) and Alison Levine (“Confronting uncontrollable environments”).

Yzelle sê die terugvoering wat ontvang word ná elke beraad is altyd ongelooflik positief. Die beraad is nie net vir diegene wat in bestuursposte of -ampte is nie. Elke persoon wat ’n invloed op ander het, is ’n leier. Die beraad is by die Baptistekerk in van Blerklaan 1, Spitskop, Bloemfontein. Kaartjies is R600 per persoon, R550 vir groepe van tien en R200 vir leerders.

OFM Nuus/Susan Maré cvs dg 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.