Central SA
Man wat saam met drie kinders in ongeluk sterf, se lewensviering Saterdag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:12 Thu, 15 Oct 2026
Die lewensviering van ’n man wat saam met drie jong kinders in ’n skoolbusongeluk gesterf het, vind Saterdag (24/10) plaas.
Zet Oosthuizen, direkteur van die JCS Independent School en verbonde aan die Bikers Church in Vaalpark, is Donderdag (8/10) dood toe die skoolbus waarin hy en die kinders gereis het, reg van voor met ’n vragmotor gebots het. Die drie kinders wat ook in die botsing dood is, is die sibbes Amandla (7) en Lwazi (9) Buthelezi, asook Uriel Govender (6).
Dane Greyling (10) het ernstige beserings opgedoen en is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer, waar sy intensiewe mediese behandeling ontvang het.
Sy het onder meer ’n gebreekte rug, ribbes en linkerbeen opgedoen. Inligting wat kort ná die ongeluk gedeel is, het aangedui dat sy ook breinskade opgedoen het en in ’n medies geïnduseerde koma gehou is. Sy kon aanvanklik nie op haar eie asemhaal nie en het voortgesette mediese sorg nodig gehad.

Die bussie. Foto verskaf
’n Fondsinsamelingsveldtog is deur Lorelise Myburgh begin met ’n teikenbedrag van R150 000 om die Greyling-gesin finansieel te ondersteun terwyl hulle op hul dogter se herstel fokus.
Na bewering het die bussie en ’n vragmotor omstreeks 15:00 reg van voor gebots. Die bussie was van Vaalpark na Sasolburg onderweg, terwyl die vragmotor in die rigting van Vereeniging gery het. Die vragmotorbestuurder het die botsing oorleef. Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk en ’n saak van strafbare manslag.

Zet Oosthuizen. Foto verskaf
Intussen word daar opnuut aangedring op dringende optrede om padveiligheid op die R59 te verbeter. Die DA doen ’n beroep op MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse premier, en Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, om die gevaarlike kruisings wat Sasolburg bedien, te laat ondersoek en veiligheidsmaatreëls in te stel.
Dr. Igor Scheurkogel, DA-LP, vra dat die situasie van dié pad dringend na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) verwys word. “Kommer oor die veiligheid van die kruisings is reeds herhaaldelik teenoor die Vrystaatse regering geopper.”
Oosthuizen se lewensviering vind om 10:00 plaas in die NG kerk in Keiskamma-straat, Vaalpark. Motorfietsryers kom om 09:15 by AVBOB in Vanderbijlpark bymekaar en vertrek na verwagting om 09:30 na die kerk.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
