Central SA
Noordwes-sakeman bied R50 000 borg aan, maar bly agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:20 Tue, 20 Oct 2026
’n Omstrede Noordwes-sakeman en voormalige provinsiale ANC-tesourier sal minstens nog ’n week in aanhouding bly nadat sy borgtogaansoek uitgestel is.
Suliman Carrim (49) het Maandag (19/10) in die landdroshof in Pretoria verskyn op ’n aanklag van minagting van die Madlanga-kommissie van ondersoek, wat beweerde misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Sy volgende hofverskyning is Woensdag (28/10), sê Lumka Mahanjana, Gautengse NVG-woordvoerder.
Die aanklag spruit uit sy beweerde versuim om op 14 Augustus vir ’n tweede keer voor die kommissie te verskyn en nog dokumente in te dien. Volgens die staat het hy nie ’n geldige rede vir sy afwesigheid verskaf nie.
Carrim is Donderdagaand (15/10) deur die polisie se eenheid vir onopgeloste sake op die O.R. Tambo-lughawe in hegtenis geneem, kort voordat hy ’n vlug na die Verenigde Arabiese Emirate sou gehaal het. Die staat beweer hy was op pad na Pakistan via Dubai.
'Hoewel daar aanvanklik gesê is dat hy op 20 Oktober sou terugkeer,
kon hy nie toe ’n retoerkaartjie toon nie.'
Hy het glo meer as vyf tasse by hom gehad, wat volgens die staat twyfel laat ontstaan oor sy voorneme om na Suid-Afrika terug te keer. Carrim voer egter aan dat sowat 70% van sy bagasie uit kos en peuselhappies bestaan het en dat die reis godsdienstig van aard was.
“Hoewel daar aanvanklik gesê is dat hy op 20 Oktober sou terugkeer, kon hy nie toe ’n retoerkaartjie toon nie. Die verdediging voer aan dat ’n bevestigde kaartjie vir 27 Oktober die bewering dat hy wou vlug, weerspreek,” sê Mahanjan.
Hy het tydens sy verskyning gesê hy is bereid om borgtog van hoogstens R50 000 te betaal, weekliks by ’n polisiekantoor aan te meld en die ondersoekbeampte in kennis te stel indien hy buite Noordwes wil reis.

Suliman Carrim. Foto: Facebook
Die staat staan sy borgtogaansoek teen. Donald Shiko, staatsaanklaer, voer aan Carrim sal moontlik sy verhoor ontduik aangesien hy reeds versuim het om voor die kommissie te verskyn toe hy nie in aanhouding was nie.
Die vervolging bevraagteken ook sy verklarings oor sy afwesigheid by vorige kommissieverrigtinge. Carrim voer aan hy is nie behoorlik in kennis gestel nie en dat hy op 4 April sy bewussyn in ’n gimnasium verloor het.
Volgens die staat is daar teenstrydighede in sy weergawes oor die ontvangs van ’n dagvaarding. Die vervolging meen ook sy gesondheid kan hom hofverrigtinge laat misloop as hy op borgtog vrygelaat word.
Die saak is tot volgende week uitgestel sodat die landdros die kommissie se notule kan bestudeer en bepaal of Carrim sy getuienis aangepas het.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

