Central SA
Noord-Kaapse polisie maan publiek oor veiligheid ná aand uit─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:20 Wed, 21 Oct 2026
Die Noord-Kaapse polisie maan gemeenskappe om uiters versigtig te wees wanneer hulle vermaaklikheidsplekke verlaat, veral laatnag en in die vroeë oggendure.
Mense, veral vroue, word aangeraai om veilige vervoer te reël, nie alleen huis toe te stap nie en afgesonderde gebiede te vermy. Dit is ook belangrik dat gemeenskappe na mekaar omsien en verdagte gedrag of dreigemente aanmeld, sê kapt. Nomthandazo Mnisi, provinsiale polisiewoordvoerder.
Om misdaad en gevaarlike situasies te help voorkom, deel die polisie die volgende veiligheidswenke:
- Indien jy moet stap, doen dit saam met vertroude vriende of familielede. Vermy donker en afgesonderde roetes.
- Reël jou vervoer vooraf en wag op ’n veilige, goed beligte plek, indien nodig.
- Maak seker almal in jou groep het ’n veilige manier om tuis te kom en laat niemand agter nie.
- Wees versigtig vir vreemdelinge en moenie toelaat dat onbekende persone jou onder valse voorwendsels na afgesonderde plekke neem nie.
- Vermy konfrontasies en beweeg weg indien ’n bakleiery of geweld uitbreek.
- Drink verantwoordelik, aangesien oormatige alkoholgebruik jou oordeel kan aantas en jou minder bewus van jou omgewing kan maak.
- Hou jou selfoon gelaai en byderhand sodat jy ’n vertroude persoon of nooddienste in ’n noodgeval kan kontak.
- Vra onmiddellik hulp indien jy vermoed dat iemand jou agtervolg of dreig.
Die polisie beklemtoon dat verkragting ’n ernstige misdaad is en dat niemand die reg het om ’n ander persoon tot seksuele aktiwiteite te dwing nie, ongeag hul verhouding, huwelikstatus, vorige toestemming of omstandighede.
“Slagoffers van verkragting en seksuele geweld word aangemoedig om voorvalle by hul naaste polisiekantoor aan te meld sodat ondersoek ingestel kan word en toepaslike stappe teen vermeende oortreders gedoen kan word,” sê Mnisi.
OFM Nuus cvs
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
