Central SA
Bloemfonteinse pa van twee sterf ná hy tydens drawwery inmekaarsak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:26 Thu, 22 Oct 2026
’n Jong Bloemfonteinse pa van twee wat onverwags oorlede is, word onthou as ’n vriendelike, hardwerkende en talentvolle mens wie se dood ’n groot leemte by die werk en onder sy geliefdes laat.
Janus Erasmus (31) het Dinsdag (20/10) tydens ’n drafsessie naby die verkeersirkel by Emily Hobhouseplein in Generaal Dan Pienaarrylaan inmekaargesak, en sy kop teen ’n randsteen gestamp. Hy is Woensdag (21/10)) kort ná 08:00 in die hospitaal oorlede.
Erasmus, ’n finansiële bestuurder by Landmark Underwriting Agency, het volgens inligting geval nadat sy hartritme versteur is. ’n Omstander het onmiddellik ’n ambulans ontbied, terwyl mense hom op sy rug gedraai en byna 15 minute lank kardiopulmonêre resussitasie probeer toepas het.
Paramedici het hom daarna op die toneel behandel en na die hospitaal geneem. Daar is aanvanklik gehoop dat hy sy bewussyn sou herwin sodat dokters verdere breinskanderings en toetse kon doen om sy breinfunksie te bepaal.

Die egpaar sou in November vier jaar getroud gewees het. Foto: Facebook
Hoewel daaropvolgende harttoetse getoon het dat sy hartritme genormaliseer het, is hy onder sedasie gehou terwyl dokters sy toestand gemonitor het. Hy is egter later oorlede.
Erasmus laat sy vrou, Sunite (30), en hul twee jong kinders agter. Die egpaar sou aanstaande maand hul vierde huweliksherdenking gevier het.
Erasmus was ’n oudleerder van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en het die afgelope vier jaar by Landmark gewerk, waar hy aan die hoof van die finansiële afdeling gestaan en ook in die uitvoerende bestuur gedien het.
Ronel Bouwer, bestuurder van maatskappyadministrasie en nakomingskakeling by Landmark, sê Erasmus het vinnig deel van die onderneming se familie geword. “Hy sal onthou word vir sy vriendelikheid, sin vir humor, lojaliteit, harde werk en bereidwilligheid om altyd te help.”
Bouwer beskryf hom as hoogs intelligent en talentvol, met ’n wye verskeidenheid belangstellings en ’n bereidwilligheid om enige uitdaging aan te pak. Sy sê hy het sy kollegas met respek en deernis behandel en dat sy afwesigheid ’n groot leemte laat wat nie maklik gevul sal word nie.
Landmark is dankbaar vir die tyd wat hulle saam met hom kon deurbring, die kosbare oomblikke wat hulle gedeel het en sy waardevolle bydrae tot die onderneming en sy kollegas.
Die onderneming het ook sy medelye met Erasmus se familie en geliefdes uitgespreek en beklemtoon dat hy ’n besondere plek in baie mense se harte gehad het.
Geen begrafnisreëlings is nog bekendgemaak nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
