Central SA
Dans op wêreldverhoog: Vrystaatse sussies se droom byna bewaarheid─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Thu, 22 Oct 2026
Twee jong dansers van Welkom staan op die drumpel van ’n groot avontuur nadat hul talent en harde werk aan hulle die kans besorg het om Suid-Afrika oorsee te verteenwoordig.
Elri Dannhauser (16), ’n leerder aan Welkom-Gimnasium, en haar suster, Lindi (11), van die Primêre Skool Naudeville, is gekies vir die Elite Squad. Hulle sal Suid-Afrika in Januarie 2027 tydens Dance Model and Talent Association (DTMA) se MSC Galaxy of the Oceans-geleentheid aan boord van die MSC Armonia verteenwoordig.
Die susters het onderskeidelik op ses- en driejarige ouderdom begin dans. Elri verkies liriese en kontemporêre dans, terwyl Lindi se gunstelingstyle hip-hop en jazz is. Hoewel hul voorkeure verskil, oefen hulle gereeld saam en help hulle mekaar om moeilike bewegings te bemeester, vertel hul ma, Natasha Dannhauser.
Vir Elri is dans ’n manier om emosies uit te druk en ander te raak. “Dans is vir my ’n veilige hawe, ’n ruimte waar ek kan ontlaai en herlaai. Dis vir my spesiaal dat ek ’n boodskap kan uitbeeld deur my dans,” sê sy.

Elri verkies liriese en kontemporêre dans. Foto verskaf
Lindi deel haar suster se passie. “Ek love dans, elke dag, heeldag. My ma sê ek staan met ’n wawiel op en ek gaan slaap met ’n wawiel.” Die susters se pad na die Elite Squad het deur verskeie rondes van die DTMA se kompetisie geloop.
Hulle het in April aan die proewe in Bloemfontein deelgeneem en in Mei tot die provinsiale rondte deurgedring. Albei het Vrystaatse kleure verwerf en aan die nasionale ronde deelgeneem, wat van 17 tot 26 September by Carnival City plaasgevind het.
Dit was tydens die prysuitdeling ná die nasionale kompetisie dat hul name as lede van die Elite Squad aangekondig is. “Dit was ’n baie intense oomblik. Jy hoor die name wat gelees word en skielik hoor jy jou eie naam. Dit was ’n ongelooflike gevoel. Ons is baie opgewonde en trots,” sê die susters.
Niel en Natasha Dannhauser saam met hul dogters. Foto verskaf
Die internasionale geleentheid vind van 25 tot 29 Januarie plaas. Die vaart vertrek uit Durban en sluit ’n besoek aan die Pomene-eilande aan die kus van Mosambiek in. Die dansers sal aan twee dae van kompetisies deelneem en die geleentheid kry om vir internasionale kleure mee te ding.
Dit sal albei susters se eerste reis buite Suid-Afrika wees. “Dit is ’n baie groot eer en ons is so dankbaar vir die geleentheid. Dit voel nog baie onwerklik en kort-kort moet ons net weer seker maak dit is regtig so,” sê hulle.
Die grootste uitdaging is om die koste van die reis te dek. Die familie wil R40 000 insamel vir uitgawes soos verblyf en hawe- en bootkoste, Elite Squad-klere, inskrywingsgeld en reiskoste. Die inskrywingsfooi van R6 500 moet teen 31 Oktober betaal word, terwyl die finale sperdatum vir die fondsinsameling 1 Desember is.

Lindi se gunstelingstyle is hip-hop en jazz. Foto verskaf
Tot dusver is R16 000 ingesamel deur donasies en die verkoop van fudge en kleiprojekte. Die susters verkoop ook kaartjies vir ’n geskenkmandjie-trekking op 30 Oktober en beplan om op 27 November ’n stalletjie by die Welkom-vlooimark se aandmark te beman.
Intussen moet Elri en Lindi hul dansoefeninge met skoolwerk en eksamens balanseer. Natasha sê haar dogters het die kompetisie deurgaans met dissipline en toewyding aangepak. “Albei my dogters se karakter weerspieël dissipline, hardwerkendheid en pligsgetrouheid. Hulle het elke tree van hierdie baie opwindende pad met volle toewyding gegee,” sê sy.
Die gesin is ongelooflik trots op die meisies en hoop om die internasionale ervaring saam met hulle te kan beleef. “Dit verg ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak. Een van ons grootste seëninge is die ongelooflike gemeenskap wat saam met ons en ons kinders hierdie pad stap,” sê Natasha.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
