Central SA
Bejaarde Vrystaatse boer in Maart ná tien jaar op moordklag verhoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:05 Thu, 22 Oct 2026
’n Bejaarde Vrystaatse boer se tien jaar oue moordsaak sal volgende jaar in die verhoorhof draai.
Carl Christian Gutter (80) se saak is Donderdag (22/10) in die Brandfort-landdroshof vir 4 en 5 Maart op die rol geplaas. Hy word aangekla van die moord op Sonnyboy Segalo in Augustus 2016 op sy plaas,Palmietfontein.
“Verskeie vertoë aan die direkteur van openbare vervolging op sowel provinsiale as nasionale vlak is afgewys. Die saak is op die distrikshof se rol geplaas en daarna na die streekhof in Brandfort oorgeplaas,” sê adv. Allen Simpson, Gutter se regsverteenwoordiger.
Luidens polisieverslae is beamptes destyds na die plaas ontbied ná bewerings van ’n poging om ’n plaasaanval uit te voer. Vier verdagtes is glo op die toneel aangetref waar hulle deur boere en plaaswerkers aangehou is.

Carl Christian Gutter. Foto: Charne van der Merwe
Segalo het met sy gesig na onder gelê met ’n skietwond in sy rug en het later aan sy beserings beswyk. Niemand is destyds vir sy dood in hegtenis geneem nie.
’n Formele geregtelike doodsondersoek is in Julie 2024 deur die Brandfort-landdroshof geopen. Die bevindinge van dié ondersoek, wat in Maart 2025 uitgereik is, het eindelik gelei tot ’n bevel vir Gutter se inhegtenisneming op ’n moordaanklag.
Hy is op 21 Mei 2025 in hegtenis geneem en later op R2 000-borgtog vrygelaat. Beslag is op twee vuurwapens gelê vir ballistiese toetse. Segalo en drie vermeende medepligtiges is aanvanklik van poging tot roof aangekla, maar die ander beskuldigdes is sedertdien vrygespreek.
Tydens ’n vorige hofverskyning het Gutter die landdros in Sotho meegedeel dat een van die aanvallers, wat volgens hom gewapen was, steeds op vrye voet is en dat hy vir sy lewe vrees.
Simpson het voorheen gesê daar is geen ballistiese getuienis wat sy kliënt met die skietery verbind nie. Die saak is in Mei van die hofrol geskrap weens herhaalde en onverklaarbare vertragings terwyl op ’n besluit van die NVG gewag is.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
