On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Twee verdagtes bly in aanhouding ná moord op Ottosdal-boervrou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Thu, 22 Oct 2026

Twee verdagtes bly in aanhouding ná moord op Ottosdal-boervrou | News Article
Die twee beskuldigdes. Inlas: Hannetjie van Zyl. Foto’s verskaf

Die borgtogaansoek van twee mans wat van die moord op ’n Noordwes-boervrou aangekla word, is uitgestel nadat hul regsverteenwoordiger eers tydens die hofverskyning opgedaag het.

Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) sal weer Donderdag 29 Oktober in die Ottosdal-landdroshof verskyn. Die borgtogaansoek is wel voortgesit, maar borgtog is geweier, sê Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes.

Die mans het Dinsdag (20/10) vir hul tweede borgtogaansoek in die hof verskyn. Tydens hul eerste borgtogaansoek verlede Donderdag (15/10) het ’n groep boere en gemeenskapslede buite die hof byeengekom om hul teenkanting teen borgtog te wys.

Agri Noordwes het die publiek gevra om aan ’n protesoptrede deel te neem om te help verseker dat die verdagtes nie borgtog ontvang nie. Die twee staan tereg op aanklagte van moord en roof ná die voorval waarin Hannetjie van Zyl (55) dood is, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Die beskuldigdes is twee dae ná die gebeure in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding. Van Zyl is Maandag 5 Oktober by die plaashek aan die Doornpan-pad, sowat 17 km buite Ottosdal, aangeval toe sy dit oopgemaak het nadat sy van die werk af teruggekeer het.

Sy is met ’n ysterpyp teen die kop geslaan en van haar handsak en selfoon beroof. Haar man, Sarel van Zyl, het haar ná die aanval aangetref en hulp ontbied. Sy is later aan haar ernstige kopbeserings dood.

Pienaar het vroeër gesê die moord beklemtoon die dringende behoefte aan ’n ander benadering tot misdaad op plase en misdaad in die algemeen. 

Hy waarsku die voortgesette toename in misdaad en die versuim om oortreders tot verantwoording te roep, bedreig die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers. 

Die organisasie meen dringende optrede is nodig om tekortkominge in misdaadbekamping, ondersoeke en die strafregstelsel aan te pak.

Die Noordwes-polisie het vroeër bevestig die twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ’n getuie hulle glo geïdentifiseer het. ’n Derde vermeende medepligtige is steeds op vrye voet. Van Zyl is Woensdag 14 Oktober ter ruste gelê.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.