Central SA
Project Dignity wil 300 leerders help om met selfvertroue skool te gaan─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:00 Thu, 22 Oct 2026
’n Skool op Vanderbijlpark wil R550 000 insamel om skoolklere, skoene en ander noodsaaklikhede aan leerders uit kwesbare gesinne te voorsien.
Geldnood behoort nie in die pad van ’n kind se opvoeding, selfvertroue en toekoms te staan nie. Vir talle leerders is selfs die basiese dinge wat nodig is om skool toe te gaan, nie vanselfsprekend nie, sê Cindy Brits, finansiële beampte by Die Ankerskool op Vanderbijlpark.
’n Nuwe inisiatief by die skool wil dié werklikheid verander deur 300 leerders uit finansieel kwesbare gesinne met noodsaaklike skoolbenodigdhede te help. Project Dignity is daarop gemik om geld in te samel vir skoolklere, skoene, sokkies en skryfbehoeftes vir leerders wie se gesinne dit nie self kan bekostig nie.
Brits sê sy het eerstehands besef hoe groot die behoefte is terwyl sy die skool se finansies hanteer. “Omtrent die helfte van ons leerders se ouers kwalifiseer vir skoolfondsvrystelling. As ’n gesin nie eens die skoolgeld kan bekostig nie, is dit verstaanbaar dat dinge soos skoolklere, skoene en skryfbehoeftes ook buite hul bereik kan wees.”
Die skool is vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, waar kinders volgens hul individuele vermoëns ontwikkel en praktiese vaardighede aanleer om hulle in die toekoms te help om ’n inkomste te verdien en so onafhanklik moontlik te wees.
Die skool het tans 752 leerders en 52 onderwysers. Ongeveer 300 leerders ontvang skoolfondsvrystelling, terwyl sowat 250 leerders daagliks ontbyt en ’n gekookte middagete deur die skool se voedingskema ontvang.
Brits sê die gebrek aan basiese benodigdhede kan kinders se skoolervaring op verskeie maniere beïnvloed. “Kinders vermy klas en sosiale geleenthede. Hulle bly soms by die huis of word dan weer blootgestel aan boeliegedrag en verwerping.”
Sy beklemtoon dat Project Dignity oor veel meer as klere en skoene gaan. “Dit gaan daaroor dat ’n kind met selfvertroue en trots by die skool kan instap, sonder om skaam te voel omdat sy klere verslete of sy skoene stukkend is.”

Die aanvanklike geldinsamelingsprojek sal die skool help om die nodige items in grootmaat aan te koop, sodat leerders dieselfde gehalte skoolklere en skoene kan ontvang. Foto: iStock
Die skool se span, wat ’n verpleegkundige, arbeidsterapeute, ’n maatskaplike werker en ’n lewensafrigter insluit, help om leerders se behoeftes raak te sien. Dit sluit ook kinders in wie se ouers nie noodwendig om skoolfondsvrystelling aansoek doen nie.
Die aanvanklike geldinsamelingsprojek sal die skool help om die nodige items in grootmaat aan te koop, sodat leerders dieselfde gehalte skoolklere en skoene kan ontvang. “Ek hoop dat die projek tot langtermynvennootskappe met individue en ondernemings sal lei, sodat leerders se behoeftes volhoubaar gehanteer kan word,” sê Brits.
“Ons besef natuurlik dat een stel klere nie genoeg is nie. Ons sien hierdie as ’n afskopprojek en wil graag ondernemings en individue aanmoedig om langtermynvennote te word, sodat ons die kinders op ’n volhoubare manier kan ondersteun.”

Die publiek kan deur die skool se BackaBuddy-fondsinsamelingsveldtog bydra, of individue en ondernemings kan die skool direk kontak om te hoor hoe hulle kan help. Die skool kan ook op versoek artikel 18A-belastingsertifikate uitreik.
Enige bydrae, hoe klein ook al, kan help om die teiken te bereik en ’n verskil in ’n leerder se lewe te maak. “Geen donasie is te groot of te klein nie. Elke R10 help ons naderkom aan ons mikpunt.”
Belangstellendes kan Brits nader by 016 931 1683 of cbrits@dieankerskool.co.za. Vir bemarkingsnavrae kan Gerrit van Bemmel by gvanbemmel@dieankerskool.co.za gekontak word. Besoek die skool se webwerf by www.dieankerskool.co.za.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.
