On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrae oor dood van Lichtenburg-polisievrou onder motor in parkeerterrein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:13 Thu, 22 Oct 2026

Vrae oor dood van Lichtenburg-polisievrou onder motor in parkeerterrein | News Article
Ao. Eunice Nortman. Foto verskaf

’n Polisievrou van Lichtenburg word Woensdag (28/10) ter ruste gelê terwyl ernstige vrae hang oor die voorval waarin sy in ’n parkeerterrein op dié dorp doodgery is.

Ao. Eunice Nortman (53), wat by die misdaadintelligensieafdeling van die polisie op Lichtenburg gewerk het, het Maandag (19/10) aan kopbeserings beswyk nadat sy vroeër die dag by ’n plaaslike winkelsentrum deur ’n voertuig getref is. Sy was 34 jaar in die polisiediens.

’n Video wat op sosiale media die ronde doen, wys hoe Nortman noodlottig raakgery word en het sterk reaksie ontlok. In die video word gesien hoe sy oor ’n voetoorgang loop terwyl ’n wit BMW-sportnutsvoertuig van die kant af nader kom.

Sy beduie met haar hande in die rigting van die voetoorgang, blykbaar om die bestuurder daarop te wys dat hy moet stilhou terwyl sy oor die pad stap. Die volgende oomblik jaag die voertuig oënskynlik buite beheer vorentoe en tref haar, waarna sy onder die BMW beland. Die voertuig se wiele beweeg oor haar, voordat die voertuig na links oor ’n randsteen jaag voor dit uiteindelik met ’n kleinerige voertuig bots en tot stilstand kom.

Ian Cameron, LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, sê hy is diep geskok deur die traumatiese beeldmateriaal van Nortman wat raakgery word en sterf. “Ek sal nie die video verder versprei nie, aangesien haar familie en kollegas nie herhaaldelik aan die traumatiese oomblikke blootgestel behoort te word nie. Nortman het verdien om veilig by die huis te kon kom.”

Cameron sê enige moontlike opsetlike optrede moet deeglik ondersoek word, en niemand moet die voorval bloot as ’n ongeluk afmaak voordat al die bewyse behoorlik ondersoek is nie. “Die bestuurder moet die volle gevolge dra indien die ondersoek enige oortredings bevestig, en dan moet borgtog teengestaan word. Haar familie verdien antwoorde en geregtigheid.”

Streetwise Legal spreek ook kommer uit oor die voorval en stel vrae oor die omstandighede waaronder die bestuurder na bewering bestuur het. Luidens berigte is dit ’n leerlingbestuurder, hoewel dié bewering en die presiese omstandighede van die voorval bevestig moet word.

Die organisasie wys daarop dat leerlingbestuurders ingevolge wetgewing aan bepaalde voorwaardes onderworpe is en, wanneer dit vereis word, deur ’n bevoegde bestuurder met ’n rybewys vergesel moet word.

Streetwise Legal sê die voorval beklemtoon die belangrikheid van ’n deeglike ondersoek, asook die toepassing van verkeerswetgewing en aanspreeklikheid, sou enige oortreding bewys word.

Die organisasie het ook kommer uitgespreek oor bewerings van korrupsie in die rybewysstelsel en sê enige bewerings dat mense hul pad oop koop deur prosesse wat hul bevoegdheid moet toets, behoort ondersoek te word.

Cameron betuig sy innige meegevoel met Nortman se familie, geliefdes en kollegas en benadruk dat haar dood die dringendheid en erns verdien wat dit vereis.

Nortman se troosdiens vind om 11:00 in die Nederduitsch Hervormde Kerk op Lichtenburg plaas, en word gelei deur ds. Gerhard Viviers. ’n Regstreekse aanlyn uitsending sal ook beskikbaar wees vir familie en vriende wat nie die diens kan bywoon nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.