Central SA
Bestralingsonkoloog se satellietpraktyk op Bethlehem aanwins vir streek─── SUSAN MARÉ 08:51 Fri, 23 Oct 2026
Die opening van ’n satellietpraktyk van Free State Oncology in Bethlehem bring omvattende, persoonlike kankersorg nader aan pasiënte in die Oos-Vrystaat.
Dr. Eduard Gräbe, ’n spesialis in kliniese en radiasie-onkologie (kankerspesialis), praktiseer voltyds by Mediclinic Bloemfontein saam met sy assosiaat, dr. Corlia Loots. Hul praktyk, Free State Oncology, brei nou sy dienste uit met ’n satellietpraktyk in Bethlehem, waar Gräbe pasiënte uit die streek weekliks sal sien.
Dit beteken, onder meer, dat kankerpasiënte nie meer die ver afstand na Bloemfontein hoef af te lê vir hoëgehaltesorg en chemoterapie nie.
Gräbe se fokus is om hoëgehalte-kankersorg gegrond op die beste beskikbare wetenskaplike bewyse te bied. Hy lê klem op individuele behandelingsbeplanning en multidissiplinêre samewerking.

Die verpleegsusters Amanda Grové, Lena Mans en Annie Hasell, Esthelle Ackerman van Pathcare, Chrismarie Meiring van Mediclinic Hoogland, en Suzanne Lessing by die opening van die nuwe satellietpraktyk. Foto: Susan Maré
Sy benadering kombineer kliniese kundigheid met deernisvolle, pasiëntgerigte sorg, sodat elke pasiënt behandeling ontvang wat by sy of haar unieke diagnose, behoeftes en omstandighede aangepas is.
Konsultasies, toepaslike chemoterapie, hormoonterapie, immunoterapie, bragiterapie, geteikende terapie en deurlopende opvolgsorg kan nou plaaslik aangebied word by die nuwe praktyk in De Leeuwstraat in Hospitaalheuwel. Gespesialiseerde bestraling sal steeds in Bloemfontein plaasvind, waar die nodige toerusting en infrastruktuur beskikbaar is.
By die opening het Gräbe beklemtoon die praktyk se hoofdoel is om hoëgehalte-, omvattende en persoonlike kankersorg aan pasiënte van die Oos-Vrystaat te bied, nader aan hul huis en ondersteuningsnetwerk.
Die waarde hiervan was reeds op 16 Oktober duidelik, toe die Bethlehem-praktyk sy eerste chemoterapiepasiënt behandel het. Dié pasiënt moes voorheen elke drie weke na hul praktyk in Bloemfontein reis, en petrol- en verblyfkoste het die gesin telkens duisende rande uit die sak gejaag.
“Dit is die rede waarom ons die satellietprakryk gestig het en die pasiënt maak die uitbreiding reeds die moeite werd,” sê Gräbe.
Deernisvolle sorg is die kern van die praktyk se benadering. Die doel is dat pasiënte ingelig, ondersteun en as individue geken sal voel gedurende hul behandeling.
Gräbe sê hy sien daarna uit om saam met Mediclinic Hoogland en die streek se medici te werk om pasiënte se toegang tot onkologiese sorg te verbeter.

Ook by die opening van die praktyk was dr. Eduard Gräbe se ouers, Minnie en dr. Chris, ortopediese chirurg van Pretoria, die oftalmoloë drs. Christiaan en Almer Engelbrecht (broers), en Francois en Cornelia Botes. Laasgenoemde vier is van Bethlehem. Foto: Susan Maré
Hy het sy mediese graad (MB.Ch.B.) aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy loopbaan in onkologie het by die Kimberley-hospitaal begin, waar hy as mediese beampte in die onkologie-afdeling gewerk het. Hy het ’n besondere passie vir die versorging van kankerpasiënte ontwikkel.
Hy het daarna sy spesialisopleiding in kliniese en bestralings-onkologie aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi, waar hy sy meestersgraad in geneeskunde (M.Med.) met lof verwerf het.
Hy het ook die genootskap van die Kollege van Stralingsonkoloë van Suid-Afrika (FC Rad Onc) verwerf. Hy is getroud met Melissa en het ’n dogtertjie, terwyl nog ’n dogtertjie op pad is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
