Central SA
Duisende Vrystatertjies leer lewensreddende swemvaardighede─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:51 Fri, 23 Oct 2026
Duisende kinders in die Vrystaat en ander binnelandse provinsies kry toegang tot waterveiligheidsopleiding danksy ’n internasionale vennootskap wat verdrinkings wil help voorkom.
Die Australiese regering ondersteun die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se programme in die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo deur finansiering uit sy direktehulpprogram. Die inisiatief rus kinders toe met kennis en praktiese swemvaardighede wat hul lewens kan red wanneer hulle onverwags in water beland, sê Mthetheleli Kweyama, NSRI-hoof van gemeenskapsprogramme.
Die vennootskap het ten doel om sowat 30 000 kinders met waterveiligheidskennis toe te rus en aan duisende kinders praktiese oorlewing-swemopleiding te bied.
Die opleiding is toegespits op binnelandse gebiede waar kinders aan gevare in riviere, damme, swembaddens en ander wateromgewings blootgestel kan word, dikwels sonder toegang tot formele waterveiligheidsopleiding of swemlesse.

Die oorlewing-swemprogram vul dié opleiding aan deur kinders praktiese vaardighede te leer. Foto verskaf
“Waterveiligheidsopleiding leer kinders om gevaarlike situasies te herken, veiliger besluite te neem en te weet hoe om in ’n noodgeval op te tree,” sê Kweyama. “NSRI-instrukteurs gebruik interaktiewe sessies om kinders onder meer te leer hoe om hulp te ontbied en iemand in die moeilikheid te help sonder om hul eie lewe in gevaar te stel.”
Die oorlewing-swemprogram vul dié opleiding aan deur kinders praktiese vaardighede te leer wat hulle kan help om te oorleef indien hulle onverwags in die water beland.
Onder leiding van opgeleide instrukteurs leer hulle vier kernvaardighede: Om hul asemhaling te beheer, hulle in die water te oriënteer, te dryf en minstens vyf meter in die rigting van veiligheid te beweeg.

Die vennootskap wil sowat 30 000 kinders met waterveiligheidskennis bemagtig. Foto verskaf
Tussen April en Augustus het die vennootskap die NSRI in staat gestel om 26 786 leerders deur 125 waterveiligheidsaanbiedings in die vier provinsies te bereik. Altesaam 141 leerders in die Vrystaat het ook oorlewing-swemopleiding ontvang.
“Elke kind behoort die geleentheid te kry om te leer hoe om veilig rondom water te wees,” sê Kweyama. “Deur waterveiligheidsopleiding en oorlewingswem gee ons kinders praktiese kennis en vaardighede wat eendag hul lewe kan red. Ons is dankbaar teenoor die Australiese regering dat hulle ons help om hierdie lesse aan meer kinders te bied, veral in ons binnelandse provinsies.”
James Majernik, eerste sekretaris vir politieke sake by die Australiese Hoëkommissariaat in Suid-Afrika, sê inwoners van sy land en Suid-Afrika is ewe lief vir water, maar ook verbind tot die veiligheid van kinders. “Die Australiese regering is daarom verheug om die NSRI deur die direktehulpprogram te ondersteun en te sien hoe die vennootskap kinders help om waardevolle waterveiligheid- en oorlewing-swemvaardighede te ontwikkel.”

Kinders is ook kardiopulmonêre resussitasie geleer. Foto verskaf
Die projek maak deel uit van die NSRI se breër nasionale pogings om verdrinkings te voorkom. Die organisasie het in 2025 altesaam 924 799 jong Suid-Afrikaners deur sy waterveiligheid- en oorlewing-swemprogramme bereik. Nog 635 179 kinders is teen die einde van September deur dié programme opgelei.
Dirk Coetzee, sakeontwikkelingsbestuurder van die NSRI, sê vennootskappe is noodsaaklik vir die NSRI se werk. “Ons belê in verhoudings met ’n wye verskeidenheid organisasies, want ons sou nie die mense kon bereik wat ons vandag bereik sonder hul ondersteuning nie.
“Ons vennootskap met die Australiese regering wys wat ons saam kan vermag deur meer kinders vaardighede te leer wat hul lewe kan red.”
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
