Central SA
Video van polisie se beweerde aanranding van Bloem-sakeman straks in hof gewys─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:38 Fri, 23 Oct 2026
Beeldmateriaal sal waarskynlik op 26 en 27 November in die landdroshof in Bloemfontein gewys word wat glo wys hoe twee Vrystaatse polisiebeamptes ’n sakeman erg aanrand.
Adriaan Badenhorst (40), wie se ribbes glo in die voorval gebreek is, het Donderdag (22/10) in die landdroshof verskyn. Hy staan tereg op drie aanklagte wat verband hou met die rig van ’n vuurwapen en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hy ontken skuld op die aanklagte. Wikus van Niekerk, Badenhorst se regsverteenwoordiger, sê hy het reeds die video aan die staat gewys voordat dit later in die hof gewys en formeel op rekord geplaas sal word. Dit is egter nog onseker of die staat beswaar sal maak teen die vertoning daarvan.
Die beeldmateriaal is afkomstig van ’n kamera by Badenhorst se woning en wys glo hoe twee polisiebeamptes hom op 2 November 2024 by sy woning in Groenvlei in sy eie erf skop en slaan.
Speelgoedwapen glo gebruik
Die polisie het na bewering op klagtes gereageer dat hy met ’n vuurwapen in die swembad geskiet het. Hy het glo daarna die vuurwapen op polisiebeamptes gerig en ook na bewering ’n veiligheidswag aangerand.
Van Niekerk sê dit was ’n speelgoedwapen wat klappers afskiet. Konst. Johannes Baardman, een van die klaers, het getuig Badenhorst het die wapen op hom en kollegas gerig en hulle gedreig. Hy het glo ook die sneller getrek, maar die vuurwapen het slegs ’n geluid gemaak.
Baardman is glo tans in aanhouding, maar Van Niekerk sê hy het nog geen antwoord ontvang op sy navraag oor die redes hiervoor nie.

“My klient is net so in sy onderbroek en T-hemp in ’n vangwa gelaai. Hulle het byna drie uur met hom rondgery voordat hy na die Pelonomi-hospitaal geneem is en daar vasgestel is sy ribbes is gebreek.”
Badenhorst het die dag ná die beweerde aanranding in sy onderbroek in die hof verskyn en is sowat ses maande aangehou voordat hy in April 2025 op borgtog vrygelaat is.
Die tweede klaer, ’n veiligheidswag, het nie in die hof verskyn nie. Die ander polisiebeampte wat tydens die voorval aan diens was, is ook ’n getuie in die saak, maar het nog nie getuig nie. Van Niekerk sê die tyd wat vir die hofverrigtinge beskikbaar was, was beperk en daar was net tyd vir een persoon om te getuig.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.
