Central SA
Prieska: Kleinseun volg 70 jaar later in oupa se voetspore as hoofseun─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:41 Fri, 23 Oct 2026
’n Familie se nalatenskap leef dikwels voort in die waardes wat van een geslag na die volgende oorgedra word.
Vir Daniël Louis Theron (17) het dié nalatenskap besonderse betekenis gekry toe hy as hoofseun van die Hoërskool Prieska vir 2027 verkies is. Dis net mooi sewe dekades nadat sy oupa Mundus van Niekerk in 1957 dieselfde pos beklee het.
Die familieverbintenis het eers ná Daniël se verkiesing aan die lig gekom toe sy ma, Emilda Theron, op ’n ou foto van haar pa afgekom en by haar ma navraag gedoen het oor die jaar waarin hy gematrikuleer het.

Mundus van Niekerk as jong seun. Foto verskaf
“Dit is vir my ’n besonderse en emosionele voorreg om te weet dat my pa hoofseun was en dat my eie seun nou dieselfde eer gaan hê. Dit is iets wat moeilik is om in woorde te omskryf. Ek is trots en dankbaar daaroor.”
Sy verkiesing was ’n trotse oomblik wat hy glad nie verwag het nie, sê Daniël. “Dit is ’n groot eer dat my medeleerders en onderwysers genoeg vertroue in my het om my as hoofseun te kies, maar ek besef ook dat die rol groot verantwoordelikheid meebring.”

Mundus van Niekerk is in 1957 as hoofseun aangewys. Foto verskaf
“Wat vir my die belangrikste is, is om lojaal en opreg teenoor my medeleerders te wees en deur voorbeeld en respek te lei. Respek word verdien. Dit word nie afgedwing nie.”
Hy wil ’n goeie voorbeeld vir jonger leerders wees en ’n leier op wie sy medeleerders kan staatmaak. Hy hoop ook om die Hoërskool Prieska se naam met trots uit te dra en leerders aan te moedig om op akademiese, sport- en kultuurgebied hul beste te lewer.
Sy groter droom is om die skool ’n sogenaamde Kom Kyk-skool te maak wat meer ouers sal motiveer om hul kinders daar in te skryf.
Emilda sien duidelike ooreenkomste tussen haar pa en haar seun, veral in hul respek vir ander, sterk sin vir regverdigheid en bereidwilligheid om op te staan vir mense wat hulself nie altyd kan verdedig nie.

Oupa Mundus van NIekerk saam met Daniël. Foto verskaf
“Ware leierskap gaan nie oor hoe belangrik jy is nie, maar hoe jy ander mense behandel en die moed het om op te staan vir wat reg is,” sê sy.
Mundus, wat op 12 September 1939 gebore is en op 21 Desember 2023 oorlede is, was ’n prokureur. Ná sy aftrede het hy en sy vrou, Freda, buite Bloemfontein gewoon. Hy was bekend as iemand wat graag dinge self reggemaak het en baie tyd in sy motorhuis deurgebring het.
Daniël onthou hoe sy oupa sy speelgoedmotortjies reggemaak het toe hy nog klein was. Hy het dikwels smiddae by sy grootouers gekuier terwyl sy ouers gewerk het. “Hy was streng en regverdig oor wat reg en verkeerd was, maar terselfdertyd liefdevol,” onthou Daniël.

Daniël Louis Theron in gr.1. Foto verskaf
Sy pa, Bertie Johan Theron, is besonder trots daarop dat sy seun die pos op eie meriete verwerf het. Hy beskryf Daniël as ’n vegter wat nie maklik opgee nie, lojaal is en baie omgee vir die mense in sy lewe. Sy raad aan Daniël is om sy matriekjaar ten volle te geniet, elke taak met ywer en deernis aan te pak en te volhard in dit waarin hy glo.
Hoewel Mundus nie meer daar is om sy kleinseun se prestasie te vier nie, glo die familie dat hy trots sou gewees het. Volgens die familie was hy nooit iemand wat oor sy eie prestasies gespog het nie, maar hy was altyd trots op die prestasies van sy kinders en kleinkinders.
“Sy boodskap aan Daniël sou waarskynlik eenvoudig gewees het: gee jou beste, betoon respek en onthou dat jou woord jou eer is.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.

