Central SA
Lichtenburg-polisievrou doodgery: Beskuldigde weer Dinsdag in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:52 Fri, 23 Oct 2026
Die jong man, wat daarvan beskuldig word dat hy ’n Noordwes-polisievrou in Lichtenburg noodlottig raakgery het, verskyn Dinsdag (27/10) weer in die hof.
Akilesh Gupta (23) het Woensdag (21/10) in die Lichtenburg-landdroshof voorgekom. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Ao. Eunice Nortman (53), wat by die polisie se misdaadintelligensie-afdeling in Lichtenburg gewerk het, is Maandagmiddag (19/10) noodlottig beseer toe sy na bewering deur ’n BMW-sportnutsvoertuig getref is terwyl sy oor ’n voetoorgang by die Lichtenburg Mall in Dr. Nelson Mandela-rylaan gestap het.
‘Saak van moord word ondersoek’
Nortman was aan diens toe die voorval plaasgevind het en is deur nooddienste na ’n hospitaal vervoer, waar sy later die aand aan haar beserings beswyk het. Sy was 34 jaar in die polisiediens.
’n Video van die voorval wat op sosiale media versprei word, het sterk reaksie ontlok. In die video kan gesien word hoe Nortman oor die voetoorgang stap terwyl ’n wit BMW-sportnutsvoertuig van die kant af nader kom.
Sy beduie met haar hande in die rigting van die voetoorgang, blykbaar om die bestuurder daarop te wys dat hy moet stilhou. Die voertuig beweeg kort daarna vorentoe en tref haar, waarna sy onder die BMW beland. Die voertuig se wiele beweeg oor haar voordat dit na links oor ’n randsteen jaag, met ’n kleiner voertuig bots en tot stilstand kom.

Gupta is ná voorlopige ondersoeke in hegtenis geneem. ’n Saak van moord word ondersoek, terwyl verdere aanklagte oor ’n beweerde oortreding van immigrasiewetgewing ook oorweeg word.
Lt.genl. Arthur Peter Adams, Noordwes-polisiekommissaris, spreek sy diepe hartseer uit oor die dood van polisiebeamptes in padongelukke in die provinsie.
Nortman se troosdiens vind Woensdag (28/10) om 11:00 in die Nederduitsch Hervormde Kerk op Lichtenburg plaas, en word gelei deur ds. Gerhard Viviers. ’n Regstreekse aanlyn uitsending sal ook beskikbaar wees vir familie en vriende wat nie die diens kan bywoon nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

