Central SA
Man wat glo negejarige vermoor, was op parool vir vorige moord─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:48 Mon, 26 Oct 2026
’n Man van die Noord-Kaap wat van die moord op ’n negejarige seun beskuldig word, sal na verwagting Donderdag (29/10) aansoek doen om borgtog.
Willem Kooper (26) word daarvan beskuldig dat hy Heinrich Human, ’n leerling aan die Intermediêre Skool Frank Biggs op Louisvale naby Upington, vermoor het. Hy staan ook tereg op ander aanklagte en die staat sal na verwagting borgtog teenstaan.
“Die staat se teenkanting is weens die erns van die misdryf, kommer oor openbare veiligheid en Kooper se vorige veroordelings,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. Hy het Dinsdag (20/10), twee dae ná die voorval, in die landdroshof op Upington verskyn.
Heinrich is glo in die vroeë oggendure met ’n mes gesteek. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die polisie is omstreeks 03:00 na die toneel ontbied, waar hulle die kind in ’n plas bloed op ’n bed aangetref het,” sê kapt. Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder
Die staat beweer Kooper was in ’n verhouding met ’n familielid van die seun. Die paartjie het na bewering die aand voor die voorval ’n rusie gehad, waarna die vrou die perseel verlaat het om verdere konfrontasie te vermy.
Sy het nie daardie nag teruggekeer nie. Kooper het glo daarna na die huis teruggekeer en die kind met die mes gesteek in die kamer waar die vrou gewoonlik oornag.
Senokoatsane sê hy is op 2 Julie 2021 aan moord skuldig bevind. Hy is in dieselfde jaar op 7 Julie in ’n afsonderlike saak ook skuldig bevind aan statutêre verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
“Hy is agt jaar gevangenisstraf vir moord en vyf jaar vir aanranding opgelê. Hy is op 20 Augustus 2025 op parool vrygelaat, wat tot 1 Julie 2029 sou duur.” Elouise du Plessis is die aanklaer. Kooper bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

