On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Drie polisielede skuldig aan aanranding in Noord-Kaap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:58 Mon, 26 Oct 2026

Drie polisielede skuldig aan aanranding in Noord-Kaap | News Article
Al drie beskuldigdes is ’n boete van R8 000 of agt maande gevangenisstraf opgelê.Foto ter illustrasie, iStock

Drie polisielede is skuldig bevind aan die aanranding van ’n man tydens die Covid-19-pandemie.

Die lede van die polisie se eenheid vir openbare orde is Maandag (26/10) in die landdroshof op Jan Kempdorp skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. “Die voorval het op 10 November 2020 by ’n bushalte plaasgevind waar die klaer en drie ander mense vir vervoer na Pampierstad gewag het,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Noord-Kaap.

Die gemerkte polisievoertuig het glo by die groep stilgehou en een van die beamptes het gesê dat slegs vroue in die voertuig toegelaat sou word. “Toe een van die beamptes na bewering die klaer se lewensmaat en haar handsak gegryp het, het hy ingegryp. Die groep het daarna foto’s en video’s van die polisievoertuig geneem omdat hulle bekommerd oor die situasie was,” sê hy.

Selfoon

Die beamptes het na bewering teruggekeer en die klaer se selfoon geëis. Toe hy weier om dit te oorhandig, is hy aangerand. Die klaer het getuig die beamptes het hom geklap, met die vuis geslaan en geskop totdat hy sy bewussyn verloor het. 

Die aanranding is later by die polisie aangemeld en hy het mediese behandeling ontvang. Die beskuldigdes is in ’n uitkenningsparade en weer in die hof geïdentifiseer. Al drie beskuldigdes het skuld ontken en die bewerings betwis. Die hof het hul aansoeke om ontslag aan die einde van die staat se saak van die hand gewys. 

Twee van die beskuldigdes het daarna verkies om hul sake sonder getuienis af te sluit, terwyl die ander een ter verdediging getuig het. 

Toegeeflikheid

Tydens vonnisverrigtinge het die verdediging om toegeeflikheid gevra en die beskuldigdes se persoonlike omstandighede en diens as polisiebeamptes aangevoer. Hulle het ook gevra dat die hof hulle nie as onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit nie.

Tsholofelo Mhiko, staatsaanklaer, het aangevoer aanranding met die opset om ernstig te beseer kom algemeen in die hof se regsgebied voor. Sy sê die publiek verwag dat polisiebeamptes hulle beskerm eerder as om hulle aan geweld bloot te stel.

Mhiko sê die erns van die oortreding is vererger, omdat dit tydens die Covid-19-pandemie plaasgevind het, toe die land buitengewone uitdagings op die gebied van openbare gesondheid beleef het.

Al drie beskuldigdes is ’n boete van R8 000 of agt maande gevangenisstraf opgelê. R6 000 van die boete, of ses maande van die gevangenisstraf, is vir vier jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle nie in dié tydperk aan dieselfde misdryf skuldig bevind word nie. “Niemand is bo die wet verhewe nie, insluitend diegene wat met die toepassing daarvan toevertrou is,” sê Senokoatsane.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.