On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Jong Bloemfonteinse drawwer dan gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:30 Tue, 27 Oct 2026

Jong Bloemfonteinse drawwer dan gegroet | News Article
Janus en Sunite Erasmus sou in November hul vierde huweliksherdenking gevier het. Foto: Facebook

’n Bloemfonteiner wat tydens ’n drafsessie vir ’n wedloop in die stad inmekaargesak het, word Maandag (2/11) gegroet.

Janus Erasmus (31), ’n finansiële bestuurder en pa van twee jong kinders, is Woensdag kort ná 08:00 in die Mediclinic Bloemfontein oorlede. Hy het die vorige dag omstreeks 07:45 tydens ’n drafsessie in Generaal Dan Pienaarrylaan in die Dan Pienaar inmekaargesak.

Erasmus was besig om voor te berei vir die Run Your City-wedloop, deel van die landwye Absa-reeks, toe hy sy kop teen ’n randsteen gestamp het. Die wedloop het Sondag (25/10) plaasgevind. ’n Omstander het onmiddellik ’n ambulans ontbied, terwyl mense hom op sy rug gedraai en byna ’n kwartier lank kardiopulmonêre resussitasie probeer toepas het.

Paramedici het hom daarna op die toneel behandel en na die hospitaal geneem. Eers is gehoop dat hy sy bewussyn sou herwin sodat dokters verdere toetse kon uitvoer om sy breinfunksie te bepaal.

Hoewel daaropvolgende harttoetse getoon het dat sy hartritme genormaliseer het, is hy onder sedasie gehou terwyl dokters sy toestand gemonitor het. Hy is egter die volgende oggend om 08:12 oorlede.

Erasmus laat sy vrou, Sunite (30), en hul twee kinders agter. Die egpaar sou volgende maand hul vierde huweliksherdenking gevier het.

Janus en Sunite Erasmus. Foto verskaf

Hy was ’n oudleerder van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en het die afgelope vier jaar by Landmark Underwriting Agency gewerk, waar hy as finansiële bestuurder aan die hoof van die finansiële afdeling gestaan en ook in die uitvoerende bestuur gedien het.

Ronel Bouwer, bestuurder van maatskappyadministrasie en nakomingskakeling by Landmark, het hom beskryf as ’n vriendelike, hardwerkende en talentvolle mens wat vinnig deel van die onderneming se familie geword het.

Sy kollegas sal hom onthou vir sy vriendelikheid, sin vir humor, lojaliteit en bereidwilligheid om altyd te help. Hy het mense met respek en deernis behandel, en sy dood laat ’n groot leemte by die onderneming en onder sy geliefdes.

Erasmus is sy ouers, Jan en Isabel, se enigste kind. Sy gedenkdiens vind om 11:00 by die Bloemfontein Baptiste Kerk plaas.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.