On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Jong Bothaville-man se hoop op ’n nieroorplanting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:34 Tue, 27 Oct 2026

Jong Bothaville-man se hoop op ’n nieroorplanting | News Article
Rinus van Heerden benodig dringend 'n nier. Foto verskaf

Die bereidwilligheid van mense om ’n nier te skenk, het nuwe hoop gebring vir ’n man van Bothaville wie se gesondheid die afgelope jaar drasties agteruitgegaan het.

Rinus van Heerden (21) ly aan nierversaking en is steeds afhanklik van dialise. Sy familie hoop dat hy binnekort ’n nieroorplanting sal kan ondergaan, sê Frik van Heerden, sy pa.

Nadat hy in Junie 2025 siek geword het terwyl hy sy praktiese opleiding as werktuigmaker by Sol-Tech in Pretoria voltooi het, het verdere ondersoeke getoon dat sy nierfunksie tot sowat 4% gedaal het. Weens sy siekte kon hy nie sy opleiding voortsit nie, maar hy droom steeds daarvan om sy rooi seël te verwerf en eendag voltyds te boer.

Hy is met ’n nierprobleem gebore nadat urine tydens sy ma, Stephanie, se swangerskap na sy niere teruggevloei het. Hy het as baba ’n operasie ondergaan om die probleem te behandel en het daarna vir jare betreklik gesond gebly. Die familie het egter nie besef dat sy nierfunksie so ernstig agteruitgegaan het nie.“Ons was onbewus van die agteruitgang omdat hy geen simptome getoon het nie, behalwe moegheid.” 

Frik en Rinus van Heerden. Foto verskaf

Wanneer hy op die plaas is neem Frik hom na die Mediclinic Welkom, waar hy op Maandae, Woensdae en Vrydae, behandeling ontvang. Hy moet vroeg soggens vertrek om betyds vir sy behandeling te wees, wat sowat vier en ’n half uur duur. Daarna is hy dikwels te uitgeput om veel te doen.

Tans is hy egter in die intensiewesorgeenheid van die Cintocare Privaat Hospitaal in Pretoria. “Dit is eintlik waar sy hoofdokters en die res van sy mediese span is. Sy bloeddruk het intussen weer gevaarlik hoog gestyg, en toe moes ek hom soontoe neem,” sê Frik.

Rinus moet Donderdag (29/10) ’n ablasieprosedure ondergaan. Tydens dié prosedure word die senuwee tussen die nier en die brein met hitte behandel om die seine wat tot hoë bloeddruk bydra, te verminder. “Die doel is dat die sein nie meer na die brein toe gaan om aan te dui dat die bloeddruk hoog is nie. Hy drink op die oomblik baie bloeddrukpille, maar sy bloeddruk bly steeds styg.”

Rinus van Heerden saam met sy ma, Stephanie. Foto verskaf

Frik beskryf hom as ’n passievolle boerseun wat graag saam met sy ouer broer, SD, op die plaas help wanneer sy gesondheid dit toelaat. Hy maak ook messe as ’n stokperdjie onder die naam KIRI Knives en het Suid-Afrika in Bisley-teikenskiet verteenwoordig. Hy en sy span het al ’n derde plek by ’n wêreldkampioenskap behaal.

“Rinus is stil en goedgemanierd. Hy is lief vir sy ouers, familie en vriende.” Die pad tot dusver was egter besonder moeilik. Stephanie was aanvanklik bereid om ’n nier te skenk en het sedert Februarie mediese toetse ondergaan. Hoewel hulle albei van die bloedgroep O-negatief is, is sy drie weke voor die beplande oorplanting in Julie ongeskik bevind om te skenk.

Oorblywende nier

Rinus se linkernier is reeds in Maart verwyder om plek vir die beplande oorplanting te maak. Ná die operasie het sy gesondheid verder verswak, terwyl sy oorblywende nier min tot geen funksie toon.

Hy moes intussen verskeie kere in die intensiewesorgeenheid behandel word weens gevaarlik hoë bloeddruk. Op 3 Augustus het hy tydens dialise twee epileptiese aanvalle gehad en ’n ligte beroerte opgedoen. Daarna moes hy weer leer loop en intensiewe fisioterapie en breinstimulasie ontvang.

Rinus saam met sy broer, SD, en suster, Jolani. Foto verskaf

Frik sê dit is uitmergelend om sy seun deur dié beproewing te sien gaan, veral omdat sy lewe as jong mens so ingeperk is. “Om geloof te behou in die hoop dat hy gesond sal word, is ’n groot beproewing. Saam huil en saam bid en vertrou, is al wat ons tot dusver kon doen en steeds doen.”

Die familie hoop steeds dat ’n geskikte lewende skenker gevind kan word. Hoewel die bloedgroep O-negatief ’n belangrike faktor is, moet uitgebreide mediese en weefseltoetse gedoen word om te bepaal of ’n persoon geskik is.

Die proses vereis ook goedkeuring deur die betrokke mediese owerhede voordat ’n oorplanting kan voortgaan. Sedert die familie se situasie bekend geword het, is hulle oorweldig deur die ondersteuning en bereidwilligheid van mense om te help. 

“Ons is stomgeslaan deur mense se mooi harte. Ons is opreg dankbaar vir elkeen wat hul hand na Rinus uitsteek.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.