Central SA
Groot spiere, groter drome: Wian mik na wêreldsukses─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:05 Tue, 27 Oct 2026
’n Oud-Vrystater wil voortbou op sy sukses as liggaamsbouer en verder ontwikkel met die oog op groter internasionale kompetisies.
Wian Welding (20), oorspronklik van Bothaville maar deesdae woonagtig in Langebaan, het op 3 Oktober by ’n internasionale World Natural Bodybuilding Federation-kompetisie (WNBF) in Mauritius uitgeblink. Hy het eerste plek in die junior afdeling, tweede plek in Classic Physique Tall en vierde plek in die ope swaargewigafdeling behaal.
Hy was ook die jongste. Sy pad na dié prestasies het egter nie sonder terugslae verloop nie, vertel Welding. Hy het aanvanklik kragoptel beoefen en vir ’n nasionale kompetisie in 2022 voorberei, maar ’n borsbesering enkele maande voor die byeenkoms het hom genoop om ’n ander sport te oorweeg.
“Ek het toe besluit om liggaamsbou te probeer en te sien of dit meer gepas was vir my lyf.” Hy het in 2023 met liggaamsbou begin en in dieselfde jaar 40 kg verloor. Hy het later daardie jaar met voorbereiding begin en in April 2024 aan sy eerste kompetisie deelgeneem.

Wian Welding het onlangs baie goed gedoen in Mauritius. Foto verskaf
Tot dusver het hy aan drie kompetisies deelgeneem, met sy onlangse resultate in Mauritius as sy grootste prestasie nóg. In Oktober 2024 het hy ook die junior afdeling van die nasionale International Natural Bodybuilding Association (INBA)- natuurlike liggaamsboukompetisie gewen.
Die WNBF is een van die grootste federasies vir natuurlike liggaamsbou ter wêreld en pas streng maatreëls vir opkikkers toe. Dit sluit poligraaftoetse in, asook bloed- en urinetoetse vir topdeelnemers.
Vir hom gaan die sport egter oor veel meer as fisieke voorkoms. “Dit daag jou fisies uit en leer jou om volgens ’n streng struktuur te werk. Dit bied jou die beste weergawe van jou lyf en ontwikkel jou dissipline,” verduidelik hy.

Wian Welding mik nou na 'n pro-kaart. Foto verskaf
Dié dissipline leer hom om vir langtermyndoelwitte te werk, iets wat ook in ander aspekte van die lewe toegepas kan word. Die voorbereiding vir kompetisies is een van die grootste uitdagings.
Dit verg maande se toewyding, streng voedingsbeplanning en gereelde oefening, terwyl die liggaam geleidelik al hoe meer uitgeput raak. Welding se voorbereiding vir Mauritius het tien maande geduur. Gedurende dié tyd is sy dieet, oefenprogram en fisieke vordering deurlopend gemonitor sodat die nodige aanpassings gemaak kon word.
Wian Welding se pa is die rede hoekom hy begin oefen het. Foto verskaf
“Hoe meer jy jou lyf uitput, hoe meer oorweldigend kan dinge vir jou brein lyk.” Hy glo dit is belangrik om een dag op ’n slag te fokus en nie deur die omvang van die hele proses oorweldig te word nie.
Agter die skerms speel sy familie ook ’n groot rol in sy vordering. Sy ma, Esté, help hom daagliks met die voorbereiding van sy kos, terwyl sy pa, Willem, hom in die gimnasium ondersteun. “My pa is die rede hoekom ek in die eerste plek begin oefen het. Ek wou van kleins af oefen omdat hy dit gedoen het.”
Hy studeer rekenaarwetenskap aanlyn by Akademia en balanseer sy studie met die eise van sy sportloopbaan. Hy oefen in Langebaan en word deur Aldin Stuart van Stuart Nutrition and Performance afgerig.
Die fokus is nou op verdere ontwikkeling, met die oog daarop om in 2028 aan ’n groter kompetisie deel te neem. “Ek wil graag ’n pro-kaart kry in die WNBF,” sê hy. Dié status sal hom die geleentheid bied om aan groter natuurlike liggaamsboukompetisies wêreldwyd deel te neem.
Vir ander jong mense wat in die sport belangstel, is sy raad om geduldig te wees en nie onmiddellike resultate te verwag nie. “Dis ’n proses wat baie jare vat. Hou by jou struktuur en moenie afwyk nie.
“Maak aanpassings en weet dat jy foute gaan maak of terugslae gaan hê, en benader dit as geleenthede om te leer en te verbeter. Dit is juis die volgehoue werk en die bereidwilligheid om uit foute te leer wat uiteindelik ’n verskil maak.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

