On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Lichtenburg-man aangekla van moord, bestuur sonder rybewys ná polisievrou se dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:51 Tue, 27 Oct 2026

Lichtenburg-man aangekla van moord, bestuur sonder rybewys ná polisievrou se dood | News Article
Ao. Eunice Nortman. Foto verskaf

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n polisievrou in ’n parkeerterrein noodlottig raakgery het, word ook daarvan beskuldig dat hy sonder ’n geldige rybewys bestuur het.

Akilesh Gupta (23) het Dinsdag (27/10) in die Lichtenburg-landdroshof in Noordwes verskyn. “Hy staan tereg op aanklagte van moord op ao. Eunice Nortman, ’n oortreding van die Immigrasiewet, bestuur sonder ’n geldige rybewys en kwaadwillige saakbeskadiging,” sê Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder.

Die aanvanklike klag van strafbare manslag is verander na moord. Die saak is tot 6 November uitgestel vir die aanstelling van ’n Hindi-tolk en ’n moontlike borgtogaansoek.

Daar word beweer Gupta is ’n Indiese burger wat nie oor geldige dokumentasie beskik om in Suid-Afrika te bly nie. Hy het na bewering die land in 2024 met ’n besoekersvisum binnegekom wat sedertdien verval het.

Voetoorgang

Nortman (53), wat by die polisie se misdaadintelligensie-afdeling op Lichtenburg gewerk het, is na bewering op 19 Oktober deur ’n BMW-sportnutsvoertuig getref. Sy was besig om oor ’n voetoorgang by die Lichtenburg Mall in Dr Nelson Mandela-rylaan te stap.

Sy was aan diens toe die voorval plaasgevind het en is later die aand in die hospitaal oorlede. Sy het 34 jaar lank in die polisiediens gewerk.

Videomateriaal van die voorval wat op sosiale media versprei is, het sterk reaksie ontlok. Die beeldmateriaal wys hoe Nortman oor die voetoorgang stap en met haar hande beduie, blykbaar om die bestuurder te waarsku.

Die voertuig beweeg kort daarna vorentoe en tref haar, waarna sy onder die BMW beland. Die voertuig se wiele beweeg oor haar voordat dit oor ’n randsteen jaag, met ’n kleiner voertuig bots en tot stilstand kom. Gupta is ná voorlopige ondersoeke in hegtenis geneem.

OFM Nuus dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.