On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Goudveldse ma probeer sin maak van seun se skielike dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:17 Wed, 28 Oct 2026

Goudveldse ma probeer sin maak van seun se skielike dood | News Article
Elisma, Tilara, Ian en Babara. Foto verskaf

Jy kan oor en oor vra hoekom, maar party vrae sal nooit beantwoord word nie.

Vir Barbara Jansen, wie se seun Ian Visagie (27), enkele dae ná sy troudag onverwags dood is, bly die vrae deur haar kop maal terwyl sy probeer aanvaar dat die kind wat haar steunpilaar was, nie meer daar is nie. Hy is op 20 Oktober in ’n motorfietsongeluk buite Riebeeckstad oorlede, slegs drie dae nadat hy en sy vrou, Elisma, getroud is.

Barbara beskryf hom as haar steunpilaar. “Ek glo nie daar was ’n beter mens as hy nie. Hy het ’n deel van my saamgeneem. Hy was die mooiste mens, van binne en buite,” vertel Barbara terwyl sy haar trane inhou.

Sy was sedert 20 September by Ian en sy gesin in Riebeeckstad om voor die troue by hulle te kuier. Dit het haar kans gegee om tyd saam met haar seun deur te bring, met hom te gesels en die besondere band wat hulle gedeel het, verder te koester. Vandag besef sy hoe kosbaar daardie tyd saam was.

Barbara en Ian op sy troudag. Foto verskaf

“Wat ek die meeste gaan mis, is dat hy elke dag ’n video-oproep gemaak het sodat ek met sy dogtertjie Tilara (2) kon praat.” Ian was veel meer as net haar seun. Hy was iemand met wie sy baie gemeen gehad het, iemand wat haar verstaan het en met wie sy dinge kon deel.

Sy dood laat ’n leemte wat sy sukkel om in woorde te beskryf. “Alles. Ek gaan alles van hom mis,” sê sy. Ian se suster, Joelene Visagie, beskryf haar broer eweneens as iemand wat ’n mens se lewe beter kon maak.

Ian en sy boetie Christiaan Jansen. Foto verskaf

Hy het ’n besonderse humorsin gehad en geweet hoe om iemand te laat lag, selfs wanneer die lewe moeilik was. “Sy liefde vir mense was aansteeklik. Enigiemand wat ooit saam met hom ’n pad gestap het, het ’n band met hom gehad. Hy was ’n broer vir baie mense wat nie eens sy eie bloed was nie.

Ian en sy dogtertjie, Tilara. Foto verskaf

“Ian was spontaan en het ’n liefde vir almal gehad. Tog was dit veral sy rol as pa waarvoor ek hoop mense hom sal onthou.” Die band tussen Ian en Tilara was besonder sterk, vertel Jolene. “Sy dogtertjie was sy hele lewe.”

Joelene sê Ian was die gom wat die familie bymekaar gehou het. Sy het gesien hoeveel pyn sy dood vir hul ma veroorsaak het. Die oomblikke wanneer Tilara na haar pa vra of sy foto sien, maak die werklikheid van sy afwesigheid nog moeiliker om te aanvaar. “Wanneer sy huil vir haar pappa en ’n foto sien, besef ons net weer hy kom nie terug nie,” sê sy.

Die omstandighede rondom die ongeluk is onduidelik vir die familie. Volgens Jolene is daar op die ongelukstoneel gesê Ian het teen ’n stilstaande vragmotor vasgery waarvan die agterligte nie aangeskakel was nie. Die vragmotor was volgens haar oorlaai, en die pad was donker en sonder straatligte.

Joelene sê Ian was die gom wat die familie bymekaar gehou het. Foto verskaf

Elisma sê sy sou enigiets gee vir net nog een dag saam met haar man. “Ek weet nou hoe dit voel om met ’n ring aan jou vinger wakker te word, maar sonder jou man langs jou.”

Sy moedig ander paartjies aan om mekaar te koester en nooit hul liefde as vanselfsprekend te aanvaar nie. “Moet asseblief nooit jou mens as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê sy en voeg by dat sy enigiets sou gee vir nog een drukkie, nog een soen en nog ’n gewone dag saam met Ian.

“Ek is steeds sy vrou. Ek sal hom altyd liefhê,” sê Elisma. Al moet sy nou leer om sonder haar man aan te gaan, bly sy agter met die liefde, herinneringe en drome van die toekoms wat hulle saam sou deel.

Elisma en Ian op hul troudag, drie dae voor sy dood. Foto verskaf.

Die familie het nog nie verdere terugvoer oor die ondersoek ontvang nie en beoog om ná die gedenkdiens by die polisie navraag te doen oor die vordering daarvan.

’n Geldsinsamelingsveldtog is begin om die koste van die gedenkdiens en ander uitgawes te dek. “Ons het nie verwag dat so ’n tragedie ons so kort ná die troue sou tref nie. Die uitgawes verbonde aan die troue was reeds aansienlik,” sê Joelene.

Die fondse sal onder meer gebruik word vir die gedenkdiens, kos, blomme en gedrukte boekies. Indien daar geld oorbly, sal dit aangewend word vir uitgawes wat Ian voorheen help betaal het, soos Tilara se skoolfonds. Enige verdere bedrag sal in haar spaarrekening belê word.

“Ons wil nie hê ’n tekort aan fondse moet ons die kans ontneem om vir hom die afskeid te gee wat hy verdien nie.” ’n Gedenkdiens vir Ian word op 31 Oktober om 11:00 in die NG Kerk Welkom-Suid gehou.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.