Central SA
Louwhuis op Sutherland heropen as literêre museum─── 12:55 Wed, 28 Oct 2026
Die Louwhuis op Sutherland in die Noord-Kaap open op 21 November weer amptelik sy deure, dié keer as ’n letterkundemuseum.
Ná jare se werk aan die inrigting daarvan sal besoekers nie net die geskiedenis van twee invloedryke Afrikaanse skrywers kan ontdek nie, maar ook die leefwêreld waarin hulle grootgeword het. Hoewel Sutherland veral as ’n bestemming vir sterrekykers beskou word, wil die projek ook aandag vestig op die dorp se letterkundige geskiedenis.
Die museum se organiseerders hoop om die kulturele waarde van die omgewing vir inwoners én besoekers sigbaar te maak. Die museum is veral toegespits op die nalatenskap van die broers W.E.G. en N.P. van Wyk Louw.
Hulle het ’n leidende rol gespeel in die Dertigerbeweging, wat Afrikaanse letterkunde in die 1930’s vernuwe het en daarop gemik was om skryfwerk aan internasionale literêre maatstawwe te meet.

Die Louwhuis voor dit opgeknap is vir die heropening. Foto: Morné van Rooyen
Bernard Odendaal, letterkundige en emeritus professor aan die Noordwes-Universiteit, sê dit is van groot belang dat die broers se leef- en denkwêreld vir besoekers toeganklik gemaak word. Die bewaring van hul dokumente, persoonlike geskiedenis en skrywersloopbane dien volgens hom die breër Suid-Afrikaanse kultuurerfenis.
Hy beklemtoon dat moderne literêre museums veel meer as bewaarplekke geword het. Hulle bied ruimte vir leeskringe, skrywersverenigings, boekbekendstellings, kongresse en skryfskole. Só kan hulle ook mense met uiteenlopende belangstellings in boeke en taal byeenbring en gemeenskapsdeelname bevorder.
Die kultuurhistorikus en museumkundige Matilda Burden, emeritus professor aan die Universiteit Stellenbosch, meen die Louwhuis kan ’n betekenisvolle plek in Suid-Afrika se museumlandskap inneem. Museums bewaar nie net voorwerpe en geboue nie, maar ook stories, liedjies, taalgebruik, volksgeloof en ander ontasbare erfenis.


Die nalatenskap van die broers W.E.G. (heel bo) en N.P. van Wyk Louw is die kern van die museum.
Burden sê baie van hierdie gebruike het reeds in stede begin verdwyn, terwyl plattelandse gemeenskappe dit steeds bewaar. Museums help volgens haar mense verstaan wie hulle is en kan as vaste kulturele ankers dien, veral waar jonger geslagte by plaaslike geskiedenis betrek word.
Rykie Louw, voormalige opsiener van die Louwhuis en oudonderwyser op Sutherland, onthou dat inwoners nie aldag die huis se belang besef het nie. Sy het skoolkinders self deur die gebou geneem en die Louw-broers se gedigte vir besoekers voorgedra om hulle met dié geskiedenis kennis te laat maak.
Sy verwelkom die tegnologie en opnames wat nou in die museum gebruik gaan word. Besoekers sal ook plekke soos die duiwehokke en perdestal kan sien. “Jy kan daar loop en beleef wat hulle moes beleef,” sê sy oor die besondere ervaring wat die huis bied.

’n Portret van die beroemde gesin Louw in hul eertydse woning op Sutherland. Foto: Morné van Rooyen
Burden hoop die projek sal ander dorpe aanspoor om hulle eie erfenis meer doelgerig te bewaar en museums te vernuwe. Sy waarsku dat sommige plattelandse museums verouderd is of sonder genoeg kundigheid ingerig is, maar glo plaaslike toewyding kan ’n groot verskil maak.
Die omskepping is onder meer moontlik gemaak deur ondersteuning van die Rupert- Historiesehuise-stigting, die Jannie Mouton-stigting, Ton Vosloo en die ATKV. Daar word ook beoog om die werk van ander skrywers uit die Roggeveldstreek in die museum te vier.
Die amptelike opening vind op 21 November om 10:30 vir 11:00 plaas. Belangstellendes moet voor 6 November by admin@louwhuis.co.za antwoord. Plekke is beperk.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
