On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Hoopstad-gesin deur nóg ’n slag getref ná pa se dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:21 Wed, 28 Oct 2026

Hoopstad-gesin deur nóg ’n slag getref ná pa se dood | News Article
Tanya van Straaten. Foto verskaf

Skaars ’n jaar nadat drie kinders van Hoopstad hul pa verloor het, is kanker by hul ma gediagnoseer en het sy dringend behandeling nodig.

Tanya van Straaten (40) en haar gesin se wêreld is opnuut omvergegooi. Terwyl sy en haar kinders, Tiaan (18), Jurita (17) en CJ (7), steeds probeer om die stukke van hul lewe op te tel ná die verlies van hul pa en man, Jan-Louis, is aggressiewe borskanker verlede week by haar gediagnoseer.

“Dit is hartverskeurend om te sien hoe die gesin met nóg ’n moeilike situasie gekonfronteer word,” sê Charlene Kleynhans, Tanya se vriendin. “Wanneer dit iemand naby aan jou is, besef jy skielik hoe vinnig die lewe kan verander en hoe min beheer ons soms oor ons omstandighede het. 

“Ek dink wat my die diepste raak, is dat hierdie gesin nog nie eens kans gehad het om behoorlik asem te skep nie.”

Nog 'n terugslag het die gesin binne 'n jaar getref. Foto verskaf

Die nuus is veral swaar vir die kinders, wat nou met die onsekerheid moet saamleef oor wat hul ma se diagnose en die pad vorentoe vir hulle inhou. “Hulle is nog besig om te leer hoe die lewe sonder hul pappa lyk, hoe om met daar die leemte saam te leef en hoe om weer ’n gevoel van normaliteit te vind.”

Charlene sê dit is dikwels die klein, alledaagse dinge wat haar die meeste ontstel wanneer sy dink aan waardeur die gesin gaan. “’n Kind wat net wil weet Mamma gaan vanaand by die huis wees. Iemand wat jou vashou wanneer jy bang is. Die eenvoudige gerusstelling dat alles oukei gaan wees.”

Die geldelike druk neem intussen toe, aangesien Tanya se mediese fonds se wagtydperk nog nie verstryk het nie. Daar bestaan dus onsekerheid oor of haar kankerbehandeling gedek sal word.

Die Van Straaten-gesin voor Jan-Louis se heengaan. Foto verskaf

Sowat R10 000 van die aanvanklike bydraes sal moontlik reeds nodig wees om die mammogram, skanderings en doktersbesoeke wat tot die diagnose gelei het, te betaal.

As die mediese fonds nie vir die behandeling betaal nie, word die koste van chemoterapie op ongeveer R20 000 per behandeling geraam. Tanya sal na verwagting 18 behandelings nodig hê. ’n Mastektomie kan na raming nog R180 000 kos.

Dit bring die moontlike mediese uitgawes op ongeveer R540 000 te staan, sonder die koste van vervoer na en van Bloemfontein, moontlike verlies aan inkomste en die gesin se alledaagse lewenskoste.

Tanya moet binnekort met behandeling begin. Foto verskaf

“Geen mamma moet kies tussen haar eie gesondheid en die versorging van haar kinders nie,” sê Charlene. Die onsekerheid oor die koste van behandeling maak die situasie nóg moeiliker, aangesien Tanya steeds haar kinders moet versorg en die huishouding se daaglikse uitgawes moet hanteer. 

“Die rekeninge hou nie op nie. Die kinders se behoeftes verdwyn nie. Die verantwoordelikhede raak nie minder nie.” Charlene sê sy wil hê mense moet verder kyk as net Tanya se kankerdiagnose en ook die ma raaksien wat ondanks haar eie uitdagings aanhou om vir haar kinders te sorg.

Tanya se vriendinne ondersteun haar deur die moeilike tyd. Foto verskaf

“’n Mamma wat haar eie hartseer moes dra terwyl sy drie kinders deur hulle s’n probeer help. Wat elke oggend steeds moes opstaan, werk toe gaan, rekeninge betaal en seker maak daar is kos op die tafel.”

Die doel van die insameling is om te verseker Tanya hoef nie die geldelike las van haar behandeling alleen te dra nie.

“Ek vra nie dat een persoon Tanya se hele finansiële las moet dra nie; ek vra dat elkeen van ons net sal doen wat binne ons vermoë is. Want wanneer ons saam staan, hoef een mens nie alleen onder die gewig van haar omstandighede te staan nie.”

Mense wat Tanya en haar kinders wil ondersteun, kan tot die geldinsameling bydra of die besonderhede met ander deel. Die opbrengs sal help met mediese uitgawes wat nie deur haar mediese fonds gedek word nie, vervoer na en vanaf behandeling en die gesin se lewenskoste.

“Hierdie drie kinders het reeds soveel verloor. Kom ons doen alles in ons vermoë om hul mamma te help om die behandeling en ondersteuning te kry wat sy nodig het.”

Charlene sê selfs klein bydraes kan ’n verskil maak wanneer mense saam staan. “Jy hoef nie baie te hê om baie vir iemand anders te beteken nie. Soms begin die grootste verskil met die kleinste daad van liefde.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 0664871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.