Central SA
Inwoners van Barkly-Wes steeds sonder krag ná byna 48 uur─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:38 Wed, 28 Oct 2026
Inwoners van ’n Noord-Kaapse dorp is keelvol omdat sommige huishoudings nou reeds drie dae sonder krag sit midde-in gereelde kragonderbrekings weens sterk wind en gure weer.
Die herhalende probleme, gebrekkige kommunikasie en finansiële verliese maak inwoners ál meer die hoenders in. “Dit weens ’n gebrek aan instandhouding en aanspreeklikheid,” sê ’n inwoner van Barkly-Wes
Die kragtoevoer het Sondagaand (25/10) begin wissel soos die wind sterker geword het, waarna die elektrisiteit Maandag omstreeks 11:00 weer in groot dele van die dorp afgesny is. Hoewel krag later na sommige gebiede herstel is, sit talle eiendomme steeds Woensdag (28/10) in die donker.
Die munisipaliteit het inwoners deurentyd op WhatsApp-groepe oor die vordering ingelig. Inwoners is aanvanklik meegedeel dat foutopsporing voortduur, maar dat die werk Maandagaand weens swak sigbaarheid gestaak moes word.
‘Hulle klim vyfuur die middag in hul bakkies en ry huis toe’
Daar is glo op die groep gesê die werkers se flitsligbatterye was pap en dat hulle reeds huis toe is.
Die gemeenskap het aangebied om ligte en ander beligting te voorsien sodat die span met die herstelwerk kon voortgaan, maar daar was geen terugvoering nie.
“Die probleem is dat die elektriese span en die bestuurder in Kimberley woon. Hulle klim vyfuur die middag in hul bakkies en ry huis toe. Hulle word nie op dieselfde manier deur die kragprobleme geraak as die mense wat hier woon nie,” sê die inwoner.
Die onderbrekings is nie ’n nuwe probleem nie en inwoners sukkel al maande lank met soortgelyke probleme wanneer die wind waai of dit reën.

Verskeie kragprobleme is in die afgelope maand aangemeld. Foto: iStock
Volgens die munisipale kennisgewings wat die inwoner aan OFM News beskikbaar gestel het, is verskeie kragverwante probleme vroeër in Oktober aangemeld, insluitend foute aan oorhoofse mediumspanning-kragdrade.
Op 4 Oktober is daar ook kennis gegee van beplande instandhoudingswerk, terwyl verdere foute in die daaropvolgende weke aangemeld is.
Die kennisgewings oor die jongste onderbreking verwys na ’n stroombreker wat telkens uitgeskop het, ’n vermoedelike fout aan ’n ondergrondse mediumspanningskabel. Kabeldiefstal in Barklystraat en Emeraldstraat is ook in ’n munisipale kennisgewing op 27 Oktober genoem.

Inwoners stel voor dat bome naby kragdrade gesnoei word. Foto verskaf
Die munisipaliteit het Dinsdag (27/10) gesê ’n diensverskaffer kon nie daarin slaag om die ondergrondse kabel reg te maak nie en ’n tydelike verbinding word beplan om die kragtoevoer na geraakte huishoudings te herstel.
In ’n verdere kennisgewing Woensdagoggend (28/10) is inwoners meegedeel dat die elektrisiteit na die meeste gebiede herstel is, maar dat sommige eiendomme steeds sonder krag was weens ’n probleem met die mediumspanningskabel. Die kabel is om veiligheidsredes geïsoleer en ’n diensverskaffer is gekontak om die herstelwerk en vervanging te hanteer.
Die inwoner sê die gereelde probleme laat haar wonder of die nodige voorkomende instandhouding voldoende gedoen word. “Bome naby kragdrade moet gesnoei word voordat dit tot verdere onderbrekings lei en toerusting wat vir herstelwerk nodig is, moet ook beskikbaar en in ’n werkende toestand wees.”
‘Die gemeenskap verstaan dat foute kan voorkom’
Die langdurige kragonderbreking het ook ’n direkte finansiële impak op huishoudings en ondernemings. Sy bedryf ’n gastehuis en sê haar vrieskaste het ontdooi, met kos wat nou gaargemaak moet word om verdere verliese te probeer beperk. Sy het ook byna R600 aan ys vir die Desember-vakansietyd bestee, wat intussen gesmelt het.
Verskeie ander gastehuise is ook geraak, wat kommer wek oor die inkomste wat verlore gaan terwyl besoekers en ondernemings sonder elektrisiteit sit.
Die gemeenskap verstaan dat foute kan voorkom, sê sy, maar verwag duideliker kommunikasie, verantwoordbaarheid en ’n plan om die herhalende probleme aan te spreek.
Die kragprobleme is deel van die breër frustrasie oor dienslewering in die dorp. Sy verwys onder meer na kommer oor die watergehalte en slaggate. “Ek verwag dat iemand wat bekwaam is, die werk sal doen. Die mense hier verdien beter as om elke keer sonder krag te sit en dan net te hoor: jammer,” sê sy.
OFM Nuus het Dikgatlong-munisipaliteit om kommentaar genader.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 0664871427.
